Bybelstudie
20 Mei 2020 - HERSTEL (13)
Daniël 12 – Hoop in Herstel
Lees Daniël 12 rustig deur.
Inleiding:
Hierdie hoofstuk sluit aan by die vorige gebeure. Die swaar tye waarna verwys word is uitgespel in hoofstuk 11 as die aanslagte van die slegte koning van die Noord. (Antiogus IV). Dit sal so moeilik wees soos daar nog nooit was nie. Maar ook in die tyd word die hoop van die opstanding gerealiseer.
Die eerste paar verse laat ons dink aan tekste in
Joël:2:2, 3:15-16, Jes.30:7
• Hoe lyk die laaste dae vir jou? Wanneer God gaan kom oordeel oor die bose?
Daniël word gerus gestel dat hy nie alleen is in die moeilike tye nie. Die engel Migael is by hom. Hy word gestuur om die volk van God te beskerm. Net so ook is jy nie vandag alleen in jou stryd nie. Die Heilige Gees is in en by jou.
God se optredes gaan selfs verby die graf.
Die tyd wanneer die goed gaan gebeur word nie in detail uitgespel nie. Vers 7. Is weer `n dubbelsinnige uitdrukking van “tyd, tyd en `n halwe tyd” as jy dit direk vertaal. Die hoofstuk eindig waar daar verwys word na Daniël se dood. Hy sal te ruste gelê word sonder om die gebeure te sien, maar hy sal ook beloon word by die opstanding.
Opstanding in vers 2 moet binne die konteks van die tyd verstaan word, voordat ons spring na die betekenis wat ons vandag het oor opstanding:
Opstanding vir die OT was om herstel te word fisies en geestelik van dit wat jy was, tot `n nuwe “herlewe”. Die onderdrukkers het die waarde van die lewe van die volk van God verminder, maar hierdie opstanding sal hulle herstel in hul waardevolle nuwe posisie voor God. Die onderdrukkers wat wakker sal word, sal dan in skaamte moet voort lewe.
• Watter hoop gee die opstanding binne Daniël se lesers se verstaan vir jou?
• Watter hoop gee die opstanding soos ons dit vanuit die Nuwe Testament verstaan vir jou?
• Is daar `n verskil vir jou?
Daniël 10-12 – die laaste visioen
`n Kort opsomming van die drie hoofstukke kan soos volg lyk:
10 – Daniël word bemoedig, hy word versterk en gesê dat hy nie moet bang wees nie.
11 – wanneer die regtige moeilike goed gebeur sal daar `n bestemde einde wees. Dit sal ophou en God sal die slegte oordeel en vernietig.
12 – Die getroues sal herstel word, opstaan uit die graf. Hulle sal wees soos God hulle bedoel het.
Daarom: Moenie bang wees nie, Ek is by jou, hierdie sal verbygaan, bly getrou.
Daniël wil 6 goed by die lesers bevestig in die laaste visioen:
1. Die visioen is van God af. 10:1, 21. Dis goddelik
2. Hemelse magte deel in die vorming van aardse geskiedenis
3. Die detail besonderhede van die gelowige se geskiedenis is in God se beheer.
“The significance of describing what is actually past history as pre-written is to declare that God is somehow in control even of the inexplicabilities of history—the successes of the godless and the sufferings of the faithful—and even at moments when evil is asserting itself in a particularly oppressive way.”
4. Die besonderhede van die Persiese en Griekse geskiedenis het geen positiewe Teologiese betekenis nie.
Met ander woorde, dis `n gejaag na wind. Hulle woel en veg, maar dit verander nie regtig iets aan God of die betekenis van God in die gelowige se lewe nie. So ook sal jou skommelinge in die wêreld niks verander aan wie God is nie, en jy kan altyd aan Hom vashou omdat Hy standvastig is.
5. Die uitkoms van die gelowiges en van die vyande is vas en seker! 12:2-3
6. Die gelowiges word uitgedaag om standvastig te bly!
“Die skrywer maak van Daniël `n voorbeeld, van iemand wat standvastig was tot die dood toe. Hy sal beloon word, selfs na die dood, by die opstanding. So moet gelowiges ook standvastig bly met die wete dat hulle ook beloon sal word by die opstanding.”
• Watter een van die 6 punte staan vir jou uit? Hoekom?
Ballingskap teologie:
Tydens my voorbereiding en werk met Daniël het ek besef dat ons vandag in 2020 `n goeie Teologie moet hê om in ons tyd te kan seëvier.
Ons moet meer toleransie hê vir swaarkry en frustrasie. Ons moet gelowig dikvellig word. Daarom moet jy vriende hê wat van jou verskil oor God. Jy moet gemaklik raak om in `n omgewing standvastig gelowig te wees waar mense drasties van jou verskil, sonder om `n geveg daaroor te veroorsaak. Maar dis daar waar jy jou eie geloof kan leef en bly getuig. God sal by jou wees soos Hy by Daniël en sy vriende was. Hy sal antwoorde gee , waar daar soms nie is nie. Hy sal eer kry, wat ons soms sukkel om Hom te gee.
Ons moet gemaklik raak om in `n sekulêre wêreld opgang te maak sonder om ons geloofswaardes prys te gee. Ons moet God bely, ten spyte van die teenstand wat ons mag ondervind. Ons moet God vertrou, al lyk dit of die uitslag dodelik vir ons kan wees. Die term “kerk in die wêreld” staan uit in die tyd van Ballingskap.
Jy moet kreatief raak oor hoe jy God kan dien, as jou “vorm” van godsdiens drasties moet verander. Ek ken vriende wat uit SA moes trek vir `n tyd lank. Hulle was in `n vreemde land uitgedaag om deel te word van `n geloofsgemeenskap wat soveel anders was as wat hulle gewoond was, maar daar ook kon hulle God vind, dien en verheerlik. Soos Daniël nie meer kon gaan offer by die tempel nie, kon hy steeds bid in sy kamer.
Wat kan jy doen in veranderende tye? Waaroor het jy beheer?
18 Mei 2020 - HERSTEL (12)
Daniël 11
Lees Daniël 11 rustig deur. Maak dalk `n paar notas om kop te hou met die geskiedenis.
Inleiding:
Ek wil `n ander metode volg vandag. So, ek gaan `n ander verhaal gebruik om te probeer verduidelik wat die betekenis is van Daniël 11.
Dink aan die verhaal waar Jesus op die see loop. Dis nag. Die wind waai sterk. Die dissipels is bang. Jesus kom na hulle toe geloop. Hulle dink dis `n spook. Hy kalmeer hulle. Roep vir Petrus uit die skuit na Hom toe. Petrus loop na Jesus toe tot hy die golwe en die wind sien. Hy raak weer bang en sink. Jesus ruk hom uit die water uit.
• Wat kan die verhaal vir jou nou beteken?
• Het Jesus gesoek na die dissipels op die see? Na hulle geroep of iets? Hoekom nie?
• Hoekom sink jy soms in moeilike tye?
Die geskiedenis in Daniël 11.
Die lesers van Daniël 11 leef in die tyd van Antiogus IV. Hy is `n baie wrede en slegte koning. Hy het baie Jode sommer net dood gemaak om sy mag ten toon te stel. Hy het die tempel verontreinig. Hy het hulle godsdiens afgeskaf, hul feeste gestop, en in die tempel `n afgod geplaas. Dit het die moed van gelowige Jode verbreek.
Die hoofstuk vertel die geskiedenis van die Seluekiede en Ptolmiede. Of makliker, dit vertel van die geskiedenis vanaf die Persiese koning Kores tot by Alexander die grote, dan van Alexander die grote tot by Antiogus IV. Die geskiedenis is omtrent oor 200 jaar. Die een koning word beskryf as baie magtig en ryk, dan word hy oorgeneem deur `n ander, ten spyte van sy mag en rykdom. Die patroon herhaal.
Die punt is, dat dit die storms was wat gewoed het in die tyd van die Jode. Dis die winde wat waai. Hulle het geen beheer oor die maghebbers wat heeltyd wrede oorloë begin nie. Hulle word wel soos `n skippie heen en weer geswaai deur die magte. Hulle word wel beseer in die middel van die gevegte. Toe Antiogus IV gekom het was hulle sommer so in die verbygaan hard geklap. Meer as een keer. Dis genoeg om hulle bang te maak. Genoeg om hulle geloof te laat verloor.
Saam met die gebeure was daar `n doelbewuste dryf om die wêreld van daardie tyd te verander in `n Griekse wêreld. Ons praat van die hellenisme. Griekse taal, kultuur, godsdiens ens. Die Jode kon so maklik deel word van dit. Soos gesien in vers 31-32.
• Waar is God? (Dink weer aan die bootjie met die dissipels… waar is Jesus?)
• Wat moet gelowiges doen? (32, 33, 35, 12:3, 10)
Verdraagsaamheid van lyding kan net gebeur wanneer daar genoeg geloof is. Geloof dat God alles sien en soewerein is. Maak nie saak wat die politieke oorlog, die magsmisbruike, die weermagte wat baklei, nie. God Sien alles en SAL OOR DIE SLEGTE OORDEEL.
• Wat ook al jou tref…Glo Ps.18:2-3, 17-18, 29-30, 47-49, 51 Lees dit!
• Wat is jou oorlog vandag? Hoe lyk die golwe en die wind om jou? (Waar is Jesus nou?)
Gebroke wêreld:
Die gebeure, die geskiedenis, beskryf ook die gebroke wêreld waarin ons leef. Leiers se mag groei, hulle val, en word maar net opgevolg deur `n volgende. Eindelik kom die ergste een Antiogus IV. Hy dink homself `n god. Hy voeg self Epifanus agter sy naam. Die beteken “god verskyn”.
Lees vers 3, 16 en 36 sê wat die slegte leiers doen?
Vers 3 praat van Alexander die grote, 16 van Antiogus III en 36 van Antiogus IV.
• Wat doen hulle?
• Hoe maak jou vyande? Ekonomiese onsekerheid, siekte, verhoudings verskille, ens. Dis als deel van jou vyande… Eintlik is dit maar een en dieselfde vyand wat agter als wat sleg is sit.
Lees weer vers 4, 18, 24c, 27, 29, 35b en 45b
• Watter troos lê daar in die verse?
(Sien hoe dit tydgebonde is… en wie is Ewig? En wie sal die ewige heerskappy kry?)
Wanhoop na Hoop… Herstel is die pad wat ons loop na Hoop
Dit lyk in die geskiedenis of die onderdrukking van `n swak nasie eindeloos is, maar die hoofstuk draai wanhoop om in hoop. Daar sal `n einde wees. In kontras met `n Ewige God en Ewige heerskappy van hoofstuk 7:18.
Slegs deur geloof en verbondsgetrouheid kan `n mens standvastig bly. Herstel beteken `n mens moet moed hou, glo, en doen wat reg is. Herstel beteken hou aan doen wat reg is.
Wat ook al jou tref, hou aan glo dat God vir jou sal veg Ps.18.
Lees weer Dan.11:45
Antiogus IV sal sy tente opslaan tussen die see en die pragtige berg. Dis die berg van God. Dis die gebied van God. Die land van God se volk. Die teenwoordigheid van God. Hy dink hy sal daar ook `n veldslag veg en wen. Maar daar tref sy einde hom. Maak nie saak hoeveel vorige alliansies, en planne hy gehad het nie, hier by God se teenwoordigheid val hy vas. Alleen, eensaam, sonder enige hulp.
Wat van die gelowige? Wanneer die gelowige vasval… Is God by hom/haar. Dan is hy/sy nie alleen nie. Dan veg God nog vir jou ook!
Daarom; Hou moed, glo en doen reg. Jesus weet presies waar jy is in daai bootjie. Hy kom direk na jou
toe, Hy soek nie eers in die donker rond nie, Hy kom reguit na jou toe. Roep Hom aan.
15 Mei 2020 - HERSTEL (11)
Daniël 10 – Vrees, onsekerheid – Engele en vertroosting van God
Lees Daniël 10 rustig deur… selfs dalk 2 keer.
Inleiding:
Dis belangrik om te weet dat Daniël 10-12 `n eenheid is. Ons sal dus dit behandel in drie vervolgde geleenthede.
Dis die laaste visioen van Daniël, en dit handel oor die gevegte van die koninkryke. Al die magte op aarde wat heeltyd aan die veg is vir die meeste mag. Die lesers word vertroos in die visioen met die feit dat God steeds soewerein is, en dat die gevegte ook in Sy hand binne sy bestuur gebeur. Eindelik sal die goeie oorwin en die slegte sal tot niet gaan. Die slegte konings op aarde/die slegte magte op aarde, het nie die finale sê oor die mens nie, maar God het. Die visioen lê klem om God se finale oordeel van die bose en die opwekking van die geregtiges. Dit gee ewige hoop vir gelowiges.
Deel 1. Daniël se visioen en die verskyning van die engel. Hoofstuk 10
Deel 2. Die geskiedenis van die koninkryke. Hoofstuk 11
Deel 3. Die bemoediging deur die opstanding. Hoofstuk 12
• Wat is jou persoonlike siening van God se invloed, hantering en bestuur van ons huidige geskiedenis? Of ons huidige gebeure?
• Wek wat op die oomblik in ons land of die wêreld aan die gang is vrees by jou? Wek die onsekerheid bekommernis by jou? Lê jy wakker soms oor die dinge?
Mag hoofstuk 10 jou help met die emosies.
Daniël se emosies:
Die visioen vind plaas in die eerste maand. Dis die maand Nisan, die tyd wat Jode sou voorberei vir die Paasfees. Hulle sou gedagtes oproep van reddingsdade van God. Hulle sou dink aan die nag wat God in Egipte die laaste plaag laat gebeur het. Hoe God die vyand se oudste seuns laat sterf het terwyl Hy by hulle wat die lam se bloed teen die kosyne geverf het, verby gaan. Die tyd wat hulle ongesuurde brode sou eet en God se grootheid bedink het.
Die belangrike is: Dit laat die Jode onder geweldige lyding en smart van die wrede koning Antiogus hoop op nog so `n reddingsverhaal van God. Mag God nou weer so optree soos in die tyd van die Eksodus gebeure. Ons weet mos Hy kan.
Die visioen van Daniël skep vrees. Die ander mense by hom vlug en kruip weg by die gedreun van die man met linneklere se stem. Daniël is braaf om te bly, maar lam van die skrik. Daniël se woorde in vers 19 is aangrypend in die lig van sy vrees.
Die man met helder linneklere word met glorie beskryf. Reinheid, en goddelikheid. Dis `n onduidelikheid wie die man is. Meeste aanvaar die die engel Gabriël. Die belangrikheid van sy beskrywing is dat dit duidelik is dat sy boodskap gesag dra. `n Gesagvolle boodskap van Hoop.
• Hoe sou jy voel in Daniël se skoene as so `n engel voor jou staan?
Vyf beelde herhaal:
In die boodskap van die engel vind ons herhaling van 5 beelde.
– Aanraking (10, 16, 18)
Elke keer wanneer die engel aan Daniël raak versterk hy hom. Dit laat hom staan, praat en luister.
– Vertroosting (11, 12, 19)
– Doelgerigtheid (11, 12, 14)
Gee aandag, verstaan… luister… let op.
– Bedreiging van Persië en Grieke (13, 20)
– Ontmoet Migael (13, 21)
Hierdie vyf beelde help ons verstaan dat die engel kom om te help. Daar is gevaar, die bedreiging in die laaste dae sal erg wees. Maar hy sal vertroos en versterk. In die tyd moet ons oplet en gedetermineerd fokus op God se waarheid. Die geveg teen die engel van Persië was so moeilik dat selfs Gabriël hulp moes kry, maar die boodskap en vertroosting aan Daniël was so belangrik dat Gabriël vir Migael vir `n tydjie alleen los om Daniël te kom sien.
Betekenis vir my en jou vandag:
Vers 19 se “moenie bang wees nie, wees sterk” laat ons dink aan Deut.20:1, Jos.1:9 en 11:6. Die omstandighede vergelyk baie, maar die wat op God vertrou sal Hy help.
• Hoe vergelyk die opdrag in jou omstandighede?
Sien raak dat God gebed hoor! In vers 12!
• Bid jy steeds met geloof, al voel dit soms of die antwoord nie vinnig genoeg kom nie?
Daniël se bemoediging en versterking geld vir elke gelowige wat op God vertrou. Daarom geld dit vir jou ook.
Daniël moet “aandag” gee. As dit moeilik gaan het `n mens insig nodig. Jy moet dat let op die waarhede van God. Lees jou Bybel. Hoor God se woord. Anders sal jy kop verloor en swak besluite neem. Vertrou God en doen wat reg is.
13 Mei 2020 - HERSTEL (10)
Daniël 9 – God se liefde is verbondsliefde
Lees Daniël 9
Drie dele in die hoofstuk. A) Daniël bestudeer Jeremia, en word beïndruk daardeur. B) Daniël bid vir die volk en pleit by God. C) Gabriël gee verduideliking van die 70 tydperke.
Inleiding:
Hierdie hoofstuk in Daniël begin met die tydslyn in koning Darius se tyd. Dis na die Babiloniese mag verbreek is, maar steeds is die Jode onder druk. Die vraag sal wees; “die Babiloniërs se mag is verbreek, hoekom kom die verlossing nie?” Dis ook die vraag van die oorspronklike lesers. Die Babiloniese ballingskap tyd wat hulle gestraf sou wees sou 70 jaar wees, soos voorspel in Jer.25:8-14 en ander tekste. Hoekom dan is daar nog soveel lyding en verdrukking van die volk, veral onder Antiogus. Daniël het die tekste in Jeremia bestudeer en die vrae het by hom ook opgekom. Hy het ook besef dat God nie die skuldige een is nie. Dis nie oor Sy ongeregtigheid dat hulle lyding verdra nie, maar oor hul eie sonde. Levitikus 26 is hier baie belangrik. God het in Lev 26 die seën en die straf aangekondig. Dit was deel van die verbond. God het gesê dat as die volk Sy wet hou sal hulle geseën wees, maar as hulle afwyk van Sy wil af sal hulle vernietig word. Daniël was bekend met die gedeeltes.
Lev 26:44-45 “En tog, al sou hulle ballinge word in die land van hulle vyande, sal Ek hulle nie so verwerp, so minag, dat hulle heeltemal sal verdwyn en dat my verbond met hulle tot niet sal gaan nie, want Ek is die Here hulle God. Ek sal die belofte aan hulle voorouers wat Ek voor die oë van die nasies uit Egipte laat trek het, weer van krag maak, die belofte dat Ek hulle God sal wees. Ek is die Here.”
• Hoe sou die laaste woorde van Lev.26 ervaar word?
• Daniël se gebed in Daniël 9 is juis met die woorde van Lev.26:44-45 in die agterkop. Hy glo dat God genadig sal wees, omdat God barmhartig en genadig is. Dan.9:9, 18b-19.
Verbond:
Vat nou `n bietjie tyd en dink oor die verbond. Waar het dit begin? Wat het dit als beteken? Wat was die verwagting van die verbond? Wat sê die teologie van die verbond oor God?
• Hoe word jy beïnvloed deur die verbond vandag?
Dit sal dalk help om ook Gen. 12:1-5, Eks.19:5, 20:5-6, Deut. 26:18,Jer.32:18 te lees. Daar is nog baie tekste waarna verwys kan word. Die kan dalk net jou gedagtes prikkel.
Daniël draai in die hoofstuk na God toe, omdat hy sien dat daar `n 70 jaar pyn voorspel is vir Jerusalem. Dis erg! Hy kom nou in nederigheid na God toe, want hy het in Jer. 25:8-14 gesien wat is die rede vir die verval.
• Is daar betekenis is “na God toe draai” vir jou? Maak dit `n verskil om “na God toe te draai” wanneer ons ontsteld is en vrae het?
Kyk nou na 9:23… Gebed en openbaring is verwant aan mekaar.
Vers 4 gee Daniël die rede hoekom hy enige tyd na God toe kan draai vir insig, hulp, vergifnis. Die rede is
die verbond! God handhaaf die verbond. God is getrou. Hoewel vers 4 sê vir die wat u gebooie
gehoorsaam, weet ons en sien ons God se getrouheid selfs wanneer hulle nie gehoorsaam was nie, en nie
Sy wil gedoen het nie… want vers 9 en 18b-19, Hy is barmhartig en genadig! Daarom praat ons van die
genade verbond.
Vers 7
• Kon jy al ooit sê dat jy onskuldig gestraf is deur `n onderwyser, ouer of selfs God? Kan jy sê dat die lyding wat ons soms verduur is onregverdig omdat jy onskuldig is?
Lees weer Rom.3:23
• Wie almal word ingesluit in vers 7? Hoekom?
• Niemand is onskuldig nie. Daarom kan ons nooit regtig sê dat ons nie deel hoef te wees van die lyding wat soms oor ons pad kom nie. Dit kom van die sondeval af al. Ons deel aan die sonde van Adam en Eva. Daarom het ons verlossing nodig. Daarom het ons Christus nodig.
Lees weer vers 9!
Die gebed van Daniël is baie interessant. Dis nie om “erkenning” van sonde en hoop om vergewe te word soos mens sien in Jos.7:20-21, of 2 Sam.12:13 nie. Dis `n gebed om die tema van God se genade oop te maak(weg oop te maak vir Sy genade te verstaan). Ons sien dit ook in Rig.10:15, 1 Sam 15:24-25 en Ps.106.
Die verlange in die gebed is dat God sal terugkeer na Sy volk toe (15-19)
Die verbond van God lê op die tafel(in die gebed). Hulle het dit oortree en verdien wat met hulle gebeur het, maar God moet asb in genade Sy verbond onthou. God se verbondsliefde is Genade! Kyk hoe verander die vraag vanaf “hoekom?” (voor/in Ballingskap) na “Wees genadig?”(na Ballingskap, met nuwe insig)
• Die eerste deel van Daniël se gebed erken hy die skuld van die volk, en aanvaar verantwoordelikheid daarvoor. Dan die tweede deel smeek hy om genade en vergifnis van God.
• Kyk vers 15…Wat het in Egipte in die verlede gebeur?
• Wat sê dit van God in vandag se krisis? Of die lyding van die lesers?
• Kyk vers 18-19… Wat is die rede hoekom Daniël glo God sal red?
Jy is ook in die verbond ingesluit deur die doop in Jesus Christus. Jy is ook kind van God. Die Gees woon in jou. Jy is Sy eiendom. Ter wille van Homself kan Hy nie dat jy tot niet gaan nie. LET OP: “U Naam is oor u stad en oor u volk uitgeroep.”
• Wat beteken dit vir jou dat Sy Naam ook oor jou uitgeroep is?
Gabriël se verduideliking:
So as 70 jaar verby is en die krisis van die Jode se lyding duur voort, hoe moet hulle die 70 verstaan? Dit moet ook nuut geïnterpreteer word in hulle tyd. Dis hoe profesie werk. Om die gebeure van God nuut te interpreteer in jou tyd. Bv. Wat beteken die kruisiging van Jesus vandag? Die opstanding? Die Hemelvaart? Wat beteken dit vir jou vandag? Nuut geïnterpreteer…
Daniël moes deur die oefening gaan met die geskiedenis van God se volk in Ballingskap.
“70 weke van jare” Dit is `n baie kriptiese sin, wat moeilik vertaalbaar is en verstaanbaar is. Dit dui op 490 jaar! Dis beteken 70 tydperke van 7. Dit korreleer met die Jubeljaar in Lev.25 wat al vir soveel jare afgeskeep is. Dat hierdie 490 jaar dan daarvoor sal moet opmaak. Ongeveer 480 jaar was daar Konings in Israel wat nie die Jubeljaar nagekom het nie…Daniël kry die insig.
Ook omtrent 490 jaar vanaf 600 Vc tot by Antiogus se einde. So dit kan ook dui op die einde is in sig. Met Lev.26 in die agterkop weet Daniël dat God belowe het dat daar weer redding en omgee sal wees vir die volk as hulle bely en terugkom na Hom toe.
Vers 24: 70 jaar dui gewoonlik op `n mens se leeftyd. Dus sal die gebeure langer duur as wat die hoorders sal leef. Hulle sal dus nie in hulle leeftyd die uitkoms sien nie. Hierdie 70 jaar bring twee simboliese tydperke na vore. 70 jaar “leeftyd” en ook die 7x tugtiging waarvan Lev.26:28 praat. Die hoop lê in die feit dat daar `n einde sal kom aan die tugtiging!
Die 70 tydperke word deur Gabriël in 4 gedeel.
7 Weke – Dui op die tyd vanaf die val van Jerusalem tot by Kores wat hulle terugstuur na Juda.
62 Weke – Dui op die tyd van die Griekse ryk. Baie verwoesting in die tyd. Alexander tot by Antiogus IV. Die onskuldige regeerder wat vermoor is kan Onius III wees. Hy was hoëpriester in Juda toe Antiogus gekom het met van sy moordende veldtogte.
1 Week – Antiogus se regering. Hy bring die heiligskendings. Hy skaf Joodse godsdienste af ens. Sy val sal vinnig geskied.
Halwe week dui op die erge gebeure rondom die tempel wat plaasvind onder Antiogus se regering.
• Waar lê die hoop in die verse 24-27?
• Die kern van die betekenis is vers 24. En die laaste woorde in vers 27.
********************************************************************************************************************
In alle lyding kan jy eerder vra na God se aangesig, Hom prys en bely dat jy Hom nodig het as om te vra; “hoe lank nog?”
God sal Sy verbond in stand hou, want Hy is nie soos `n mens nie. Hy is altyd getrou en genadig.
Weet dat alle sleg en bose vernietig sal word aan die einde. Intussen – bid gedurig!
Dis die kern van Daniël se boodskap in die hoofstuk.
11 Mei 2020 - HERSTEL (8)
Daniël 8 – Hoop in seker
Inleiding:
Daniël 8 is Quasi profesie, wat beteken dat dit huidige geskiedenis gebeure allegories verduidelik. Dit kyk terug en vertel die verlede met toepassing op die huidige tyd. Die tyd van Antiogus IV 170-160VC. Om die hoofstuk te verstaan moet mens die storielyn van die Israeliete ken en verstaan!
586 Vc was die val van Jerusalem. God se hand was betrokke daar, so dit het nooit gebeur buite Sy beheer en heerskappy nie. (Dan.1:1-2)
539 Vc het die Babiloniese ryk geval toe Belsasar verwaand geraak het en nie besef het dat God eintlik heeltyd in beheer was nie. Toe hy nie rekenskap gehou het met God nie.
Koning Kores van die Perse het aan bewind gekom, na Darius van die Mede, en die Israeliete laat teruggaan na hulle land toe om hul tempel te gaan herbou. Hierdie koning het ook verwaand geraak met al sy baie mag en is ook verwoes! Die Griekse ryk het aan bewind gekom!
330Vc kom Alexander die grote aan bewind, en neem binne 13 jaar die bekende wêreld oor en beheer alles. Hy sterf vroeg(32j) en die Griekse ryk verdeel in 4 (Sirië, Turkye, Egipte en Grieke).
Uit een van die vier ryke (Sirië, Seleukiede) kom `n onaansienlike klein koning. Hy begin baie mag kry en raak baie voorspoedig! Hy vernietig alles en almal soos hy wil. Hy sit baie druk op die Jode, en verwoes hulle Godsdienspraktyke en vervang dit met sy eie heidense maniere! Dit veroorsaak veroordeling.
Hierdie koning was Antiogus 4e Epifanus. Hy het regeer van 170Vc tot so 164Vc. Hy het die tempeldienste afgeskaf in 167Vc. Let op die drie jaar vandat die tempeldiens afgeskaf is tot sy einde.
Hierdie hoofstuk handel oor die tyd van 167-164Vc. Met ander woorde, dis in die tyd geskryf en die hoorders leef in die tyd. Hierdie gebeure word veroordeel en mense hier word bemoedig! God sal weer die tempel herstel dui daarop dat God weer die dinge op aarde sal kom herstel soos dit bedoel was.
Teks inhoud:
Die hoofstuk word in vers 1 dadelik gekoppel aan Hoofstuk 7. Die hoofstuk wil die boodskap van hoofstuk 7 dieper indryf! Die hoofstad Susan, was die hoofstad van die Perse! Hier begin die geskiedenis van die vertelling. Dis interessant om te weet dat Susan in die tyd geen mag meer gehad het oor die Jode nie.
Hy sien `n skaapram, wat baie mag het, met twee horings, een langer as die ander. Dis Medië en Persië! Een, sterker as die ander. Hy het die val van Babilon(Noord), Libië(wes) en Egipte(suid) veroorsaak! Hierdie ram, dink hy is alles, geen dier was opgewasse teen hom nie…en dan kom die bokram!
Die bokram, wat Griekse ryk is. Koning Alexander is veral vinnig en sterk! Hy vernietig die Perse, en neem die wêreld oor in `n kort tydjie, maar gaan dan vroeg dood!
Die griekse ryk deel in vier, en uit die vier ontwikkel een baie moeilike koning! Antiogus. Hy
veroorsaak baie hartseer en onmin. Hy raak ook baie verwaand en maak asof hy selfs God kan
uitdaag! Hy sal ook val, soos die ander! Binne 2300 dae en aande (deel deur twee dan 1150 dae), of
3jaar 2maande en 10 dae! 167-164!
Betekenis:
Ons sien dat in die gebeure in geskiedenis is God se hand heeltyd betrokke. Nebukadneser/Belsasar
(Babilon) word koning, verwaand en God vernietig hom…Kores word koning, verwaand, en hy word
vernietig…Alexander, Antiogus, ens. Hierdie patroon is duidelik. In die patroon van die verloop van
geskiedenis moet mens drie goed sien wat `n rol speel. Die mens(gebroke), die wêreld
(omstandighede wat buite ons beheer is), en God! Elke keer wanneer die gebroke mens verwaand
en magsbeheb raak, dan kom God en herstel weer als. Die laaste keer sal God dit finaal herstel. Die
gebeure dui op die patroon.
Soos mens die geskiedenis sien ontwikkel besef mens God se hand oor alles, en dit bemoedig ons!
Want maak nie saak waar in die “patroon” ons nou is nie, God se hand is oor dit! Of ons nou aan die
ontvangkant is van slegte magte, God sal hulle herstel, en of ons nou die mag is…Behou berekening
met God… Hy is in beheer…!
Vrae uit die teks:
1. Waar is Susan?
Hoofstad van Persië
2. Hoekom is die skaapram se een horing langer as die ander een?
Dit dui op een koning magtiger as die ander een. (Mede en Perse)
3. Wat beteken die “stoot na wes, noord en suid?”
Wes= val van Babel(539vc), Noord= Val van Libië, en Suid= val van Egipte
4. Wie is die vinnige bokram?
Die Griekse ryk!
5. Wat beteken sy horing?
Dit verwys na die eerste magtigste koning van hulle.(Alexander die grote 330 vc)
6. Hoekom breek sy horing op die hoogtepunt van sy mag?
Hy het binne 13jaar die bekende wêreld oorgeneem en is dood op 32j. Baie voortydig!
7. Waarom vier horings in vier rigtings?
Die Griekse ryk skeur in vier(Sirië, Egipte, Grieke, Turkye)300vc
8. Wat beteken die onaansienlike horing?
Die koning wat kom is sleg! Hy veroorsaak moeilikheid, en is waarskynlik die huidige
probleem! (Antiogus IV Epifanus)
9. Wat is die pragtige stad?
Dit is die volk van God. Israel
10. Is die hemelse leërmag Engele?
Nee, dit verwys na die verwaandheid, dat hy dink hy kan selfs die wêreld bokant sy begrip
verstaan en uitdaag…hemelruim!
11. Wie is die hoof van die leërmag?
God self!
12. Wat is die daaglikse offers wat met sondige offers vervang is?
Dit verwys na die tempeldiens van die Jode wat deur Antiogus afgeskaf is en deur sy slegte
heidense gebruike vervang is.
13. Het die 2300 dae enige betekenis?
Dit verwys na `n presiese tydperk! Dis oggende en aande, en moet dus deur 2 gedeel word.
Dit is dan 1150 dae, wat gelyk is aan 3 jaar! 167-164 VC.
14. Wie is die stem uit Ulai?
Dis God wat hier praat, en vir Gabriël opdrag gee om die gebeure vir Daniël te verduidelik.
15. Wat beteken die eindtyd waarna hier verwys word?
Die skrywer dink aan eindtyd as `n geheel, van nou tot die Finale oordeel. So alles wat nou
gebeur is deel van die eindtyd…God se finale oordeel is aan die gang…
16. Hoekom moet dit geheim gehou word?
Dit dui op die moeilikheidsgraad van die begrip. Mens moet versigtig oor die dinge dink,
want dis moeilik verstaanbaar! Dis ook hoekom Daniël siek geword het.
8 Mei 2020 - HERSTEL (7 verv.)
Daniël 7 – Let op… die Een wat Ewig lewe (Ancient of days)
Inleiding:
Die begin van die nuwe orde wat God sal bring word in vers 9-28 aangekondig en verduidelik. In die begin van die hoofstuk is indirek aangekondig dat God gaan orde bring. Die skrikwekkende visioen met die diere is gesien. Daar is soveel vrees wat voorlê vir die mense wat in lyding verkeer, maar God sal orde bring. Hy is die Een wat die diere mag en opdrag gee, maar Hy kan dit net so vinnig wegvat ook. Die “maar” lê heeltyd in die hoofstuk in die agterkop van die lesers. Jy as gelowige kan altyd vashou aan die feit dat God weer orde sal bring. Intussen kan jy voortgaan om elke dag heilig te leef. Dit beteken, doen goed, hou by die wil en bepalings van God, bly getrou en standvastig in geloof. God sal die orde weer bring. God sal weer vrede en geregtigheid bring, ook in jou gemoed.
Die hofsitting word gereed gemaak:
Die prentjie verander in vers 9. Die verandering is redelik skielik. Onverwags. So ook kom die ondergang van die bose. Jy kan daarom reken. Die verandering beklemtoon die heerskappy van die Een wat ewig lewe. Dit vat ook van die belangrikheid van die “klein” horinkie weg.
So vinnig soos die dier kom, so vinnig kom sy einde en daar sal niks van hom oorbly nie.
Interessant:
• In Amos, word die getal 4 gebruik as voorbeeld van wanneer God se geduld op raak en Hy gaan optree. Hier lyk dit ook die geval te wees. By die vierde dier kom God om op te tree. So kan dit ook nie aangaan nie, en die oordeel van God oor die bose sal nou geskied.
Die hofsitting is deel van die visioen. Dis die kern van die visioen, dis nie `n nuwe gedagte nie. Wat hier gebeur bevestig God se almag. Hier word die lot van die diere besluit. God maak die besluit! God gee ook die heerskappy aan die een wat lyk soos `n menslike wese. God besluit om die heerskappy vir die heiliges te gee.
Simboliek is verrykend: (9-14)
❖ Trone word reggesit: God se mag word beklemtoon.
Jer.49:36-39 Ek laat die vier winde losbreek teen Elam, die winde uit die vier hoeke van die hemelruim, Ek verjaag hulle al die windrigtings in; daar sal nie ‘n nasie wees nie of van Elam se vlugtelinge sal daar beland. Ek laat Elam se mense paniekbevange raak voor hulle vyande, voor dié wat hulle lewe soek; Ek laat ‘n ramp teen hulle losbreek, my gloeiende toorn, sê die Here, Ek stuur die swaard agter hulle aan totdat Ek hulle heeltemal uitgeroei het. Ek sal my regterstoel in Elam neersit en koning en amptenare laat ombring, sê die Here. Maar wanneer die tyd daar is, sal Ek die lot van Elam verander, sê die Here.
Sy beheer in die hemele het ook invloed op die aarde. Sy hofhouding geskied hier waar die trone gereed gebring word. Van die troon af kom God oordeel vel oor die gebeure op aarde.
Wat verstaan jy oor die oordeel van God oor die vyand nadat jy Jer.49:36-39 gelees het?
❖ “Hy wat ewig lewe” – God was nog altyd buite ons tydsgrense.
Lees Matt.25:31-46
Hier is God se oordeel oor die wat geregtig is. Daar word onderskei, goeie dade teenoor slegte dade. Die wat goed doen sal beloon word. Vir die Jode 170Vc was dit ook `n bekende gedagte.
❖ Wit kleed en hare – Reinheid!
Hy word voorgestel as een met wysheid in die grysheid, en wat rein is en wat sonder sonde is.
Ps.104:1-4
❖ Vuurvlamme en wiele van vuur – God is teenwoordig
Vuur word dikwels in die Ou Testament gesien as teken van God se teenwoordigheid. Hy het in `n vuurkolom die Israeliete gehelp in die woestyn. Rook en vuur het dikwels dieselfde simboliek. Byvoorbeeld in die Tempel by die ark van God.
Dink aan Moses by die brandende bos ook. Die verbond word ook dikwels gekoppel aan die vuur gedagte. Daarom kan die leser aflei dat God getrou sal bly aan die verbond.Eks. 14:15-24
❖ Daar is baie teenwoordig – God se weermag
Duisende dui dikwels op God se weermag, hulle sal namens Sy kinders veg. Num.10:35
❖ Die boek word oopgemaak – Oordeel sal nou gevel word
Eks. 32:32-33 Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het.” Maar die Here het hom geantwoord: “Nee, Ek sal hulle wat teen My gesondig het, se name uit my boek uitvee.
Hoe laat hierdie teks jou voel? En wanneer dit van toepassing is op jou vyand?
Daniël 7:11… die klein horinkie word in die vuur gegooi…
❖ Nou kom `n nuwe verteenwoordiger.
Hy is soos `n menslike wese. Nie soos die gediertes nie. Vir hom word die heerskappy en koninkryk gegee wat ewig sal duur.
Hy ontvang die heerskappy namens die “heiliges” (18) Met ander woorde, hy verteenwoordig die heiliges.
• Dink nou weer aan die konteks van die lesers. Dan antwoord jy die vraag: Wie is die heiliges?
En nou, wie is die heiliges vandag? Lev 20:7 Wy julle aan My. Wees heilig, want Ek is die Here julle God.
Daar is baie verskille oor wie die “menslike wese” kan wees. Vir die lesers was dit `n verteenwoordiger van die gelowige standvastige getroue diensknegte van God.
Vir ons wat na die kruis leef, is dit makliker om te verstaan dat dit Jesus is wat namens ons die heerskappy ontvang het. En ons sal eendag saam met Hom heers. Sy heerskappy sal ewig duur. Daarom hoef die lesers nie te vrees dat hul lyding vir ewig sal duur nie, dit sal nie. Joune ook nie. Lyding is net vir `n vasgestelde tyd (25)
Daniël se reaksie: Baie soos myne en joune (:
Let op dat Daniël twee keer vir die engel (die een wat daar staan) gevra het om die visioen te verduidelik. (vers 16, en vers 19) Asof die eerste keer nie genoeg was nie. Vers 17-18 verduidelik die engel die belangrikste. Daar is vier koninkryk gewees. God het die mag van hulle weggevat en aan die heiliges gegee. “Wat meer het jy nodig om te weet?”
Dan vra Daniël weer… Verduidelik vir my die vierde dier?
Daniël se fokus is op die gevaar, die krisis, die lyding, die probleem. Die engel se fokus is op God wat mag neem en gee, en die heiliges.
• Waar lê jou fokus in die onseker tye?
Vir God is ons krisis min in vergelyking met die feit dat ons Sy heiliges is. Hy gee meer oor ons om as oor die probleme. Ons kan vrede hê in die feit dat ons Sy eiendom is. Hy sal sorg vir die res. Maar soos Daniël kyk ons soms verby die goeie boodskap van God en sien ons krisis raak.
Die engel is baie geduldig met Daniël soos God ook met ons is. Hy verduidelik maar weer.
Daniël wou meer verstaan as wat aan hom verduidelik word. Selfs die tweede keer as die engel verklaar het, verstaan hy steeds nie volledig nie.
• Hoeveel verduidelikings het jy soms nodig?
Hier is die troos: Moet nie bekommer nie… God is by jou, jy is Syne!
Die engel bevestig net God se geregtigheid in die toekoms en die heiliges wat vir Hom belangrik is.
Kyk nou die tweede verduideliking. Vers 19-22.
Daniël gee meer inligting van die visioen. Hy antwoord eintlik self sy vrae.
• Wat beteken vers 21-22 vir jou?
Jou vraag in die lewe moet eerder wees: Hoe bly ek deel van God se heiliges te midde van lyding en onsekerheid? Dis `n “wag” tyd. En in die tyd moet jy getrou die Here dien met standvastige geloof.
Vers 25 is belangrik. Die lyding sal kom. Die dier sal die heiliges vervolg. Maar dit sal net vir `n “vasgestelde” tyd gebeur. Die Een wat ewig lewe, is nie tydsgebonde nie. Die menslike wese wat die heerskappy namens die heiliges ontvang sal ook `n heerskappy vir ewig kry. Die kontras is dat die lyding sal verbygaan, maar die ewige heerskappy van die heiliges, die wat volhard het, sal bly vir ewig.
• Dis normaal om in lyding te vra: “hoe lank nog?”
Die antwoord is ongelukkig nie volledig nie. Die antwoord is “vasgestelde tyd” of direk vertaal, “`n tyd en `n halwe tyd” lank.
Visioene openbaar waarhede oor die toekoms, maar bedek sommige detail. Ons kan inlees dat die lyding sal verbygaan. Dat God op die troon sit. Die waarhede en troos lê in ons fokus wat verander van ons krisis na ons God. Hy is in beheer oor die tyd. Hy gee en neem mag. Hy sal heerskappy gee aan Sy heiliges. Wanneer?… ons weet nie.
Daarom vers 28 …redelik oop einde…
6 Mei 2020 - HERSTEL (7)
Daniël 7 – Wees heilig, want Ek is heilig!
Inleiding:
Daniël 7-12 verander die skryfstyl nogal heelwat. Dis nou meer visioene en apokaliptiese skryf styl. Dit beteken dis visioene oor die eindtyd. Dwarsdeur kom die boodskap dan na vore dat God is beheer is oor alle tyd. Die geskiedenis en die toekoms is in Sy hand. Die visioene openbaar die waarheid oor die end, maar dit bedek ook `n klomp detail inligting. Met ander woorde nie alles oor die einde kan in detail spesifiek verklaar of verstaan word nie. Daar is wel `n boodskap van troos en hoop vir die persone wat deur lyding gaan. Die visioene bevestig die swaarkry wat voorlê, en voorsien ook hoop vir die toekoms in die verwagting dat God sal oorwin. Hy heers vir ewig.
Alhoewel Daniël nie presies weet wanneer God die boosheid finaal sal vernietig nie, is die boodskap duidelik: WAG, en terwyl jy wag, wees heilig!
• Jy kan jouself vra: Hoe bly ek een van die heiliges van God terwyl ek lyding of onsekerheid ervaar? Dis `n beter vraag as “wie is watter dier?”
Sommige beelde en metafore het direkte konneksies met die realiteit, maar meestal wil die beelde en metafore wat in visioene gebruik word eerder die wêreld in Teologiese begrip plaas. Om te verstaan dat God in beheer is, dat Hy die bose sal oordeel en vernietig, dat lyding tydelik is en dat die stryd op aarde `n hoopvolle toekoms het. Ons kan dus maklik onsself in die beelde en metafore in lees, om so ons deelname in dit te vergelyk met ons deelname in die wêreld waarin ons leef.
Die konteks van die lesers
Die agtergrond van die gedeelte is baie belangrik. Die Jode wat die deel lees leef onder die mag van die Griekse regering. Dis so 170vC. Meer spesifiek die tyd van Antiogus Epifanes. In die tyd wat hy regeer het was daar ook baie politieke opstande en roeringe tussen die Noorde en die Suide. Die Seleukiede en die Ptolmeërs. Hulle het ook baie druk en lyding vir die Jode in daardie tyd veroorsaak. Saam met hulle was Antiogus die ergste verwoester van die Jode.
Hulle vraag sou wees. “Wanneer sal die lyding stop?”
Dis `n normale vraag van mense in moeilike tye. Ongelukkig word die antwoord nooit regtig gegee nie. Maar dit sal stop, is die antwoord. Die vidioene is `n oproep om getrou en standvastig in geloof te bly ten spyte van die lyding. Daar lê altyd `n oorwinning aan die einde van die soort visioene.
Lees Daniël 7:
God maak Sy keel skoon:
Vers 2:
Sommer in die inleiding al sien ons die “wind” wat die “see” onstuimig laat word.
Lees Ps.74:12-17, 89:9-11
• Wat kan die woorde beteken?
In die antieke wêreld was die chaosmagte dikwels deel van die waters van die see. Van daar die baie
seemonster stories. Vir die gelowiges was God altyd die een wat die chaosmagte getem het. Die Jode sal
besef dat God, soos met die skepping, kalmte, orde, en geregtigheid sal bring oor die magte. Hulle lees die
sin, en verstaan God se orde is aan die kom.
Dis asof God Sy keel skoon maak vir die res van die hoofstuk.
• Watter tipe orde en geregtigheid en kalmte sou die Jode in verdrukking ervaar?
• Watter tipe orde en geregtigheid ervaar jy in jou onsekerheid en lyding?
• Met die Psalm gedeeltes in jou agterkop… wat kan Dan.7:2 vir jou beteken?
In Eksodus 15:1-18 sien ons hoe God die “see” oorwin het om die volk te red. Hier in Daniël 7 kom die diere
nou uit die see. Hulle kom bedreig die volk van God. Hy sal hulle weer tot orde roep. Die vers het diep
simboliese waarde vir die res van die hoofstuk wat voorlê. Dit skep `n verwagting by die leser dat God sal
orde handhaaf.
Die vier diere uit die see:
Die hoofstuk lê meer klem op die vierde dier as die ander. Dit gaan eintlik maar net oor die tyd van die vierde
dier, waarin die lesers hulle bevind.
1. Leeu met arendsvlerke: (Waarskynlik verwys dit na Babilon se koninkryk)
Dit beeld krag en mag uit. Maar sy vere word gepluk. Hy moet staan, want hy moet reg wees vir `n
geveg wat kom. Hy is wel reeds verswak omdat sy vlerke af is. Hy is ook nie meer so vreesaanjaend
nie, want hy kry nou `n gewone mens se verstand(hart). Hy sal sekerlik verloor.
• Wie het sy vlerke gepluk? Wie gee hom die mens se verstand?
Die leser sou maklik verstaan dat die God is…
2. Beer met bene in sy mond: (Dis dan die Mediërs se koninkryk)
Die drie ribbe bene in sy mond gee die idee van totaliteit. Hy het alles in sy kake vas.
• Wie gee opdrag dat hy mag vreet? Weer die leser verstaan dit as God wat opdrag gee…
3. Die Luiperd met vlerke: (Dis dan die Persiese koninkryk)
Hy is vinnig. Aan hom is heerskappy gegee. Dis `n woord wat geassosieer word met God. Hy gee
heerskappy.
• Weereens is dit iets wat God gee…
❖ Wat kan jy aflei wanneer jy sien dat God die Een is wat die “mag” gee vir die diere?
4. Die dier/monster is anders. Daar is `n redelike inleiding wat sy vreeslikheid beskryf. Hy bring
verwoesting. Dieselfde soort verwoesting wat die klip gebring het in Daniël 2 met die beeld in
Nebukadnesar se droom, en dieselfde soort verwoesting wat die leeus aan Daniël se vyande gebring het
in Daniël 6.
Hy is waarskynlik Antiogus IV Epifanes. Die Griekse koninkryk. Die tien ander horings kan moontlik 10
regeerders wees vanaf Aleksander die grote tot by Antiogus. Daar is ander verduidelikings ook, maar dis nie
belangrik nie. Hy is verwaand. Die klein horinkie word bietjie belaglik beskryf. Net met “klein” met `n groot
mond. Dus, hy is groot praterig. Die onvolledigheid waarmee die sin hom beskryf dui op sy swakheid in
vergelyking met God wat hy probeer tart.
❖ Hoekom dink jy lê die klem op die “klein horing” in die hoofstuk? (dalk sal jy dit beter kan antwoord
aan die einde)
4 Mei 2020 - HERSTEL (6)
Daniël 6 – Moet jou nie kwel oor die bose nie, God sal sorg.
Inleiding:
Die hero in die verhaal is Daniël, wat wys en opreg is! Meer nog, het hy sterk innerlike (goddelike) Gees. Bly by wat reg is op sy koers ten spyte van moontlike gevolge! Selfs dood. Dit lei tot oorwinning wanneer sy vyande sterf en die koning afkondig dat sy God geëer en gedien moet word! Die verhaal eindig in `n loflied tot God!
Sy vyande gee vir niks om nie. Nie vir mense, geloof, koninkryk nie, niks. Hulle enigste oogmerk is om Daniël te vernietig. Soms is dit die belewenis van gelowiges dat alles teen hulle werk. Alles wil hulle vernietig! Die boodskap…bly by wat reg is, God sal sorg vir die res! (Wysheidsmotief…)
Spr.6:12-15 Dit is ‘n nikswerd mens, ‘n mens vol onreg, wat altyd reg is om te lieg, om te bedrieg deur met die oog te knik, met die voet te beduie, met die vingers tekens te gee, wat altyd met ‘n skelmstreek kom en voortdurend op kwaad uit is. Hy maak moeilikheid waar hy gaan. So ‘n mens se ondergang kom skielik; hy stort ineen, en daar is nie herstel nie.
Die verhaal nooi ons om `n meer Godgesentreerde uitkyk oor die lewe te hê! God se wil, eerder as my eie, en as dit dood, gevaar of lewe inhou maak dit nie saak nie! Hou vas aan Sy wil… God stel nie belang in ons gemak nie, Hy stel belang in ons karakter!
Die koning is nie die gevaar nie.
In die vorige hoofstukke was die tiran koning elke keer die gevaar. Hier is die koning nie die probleem nie. Hy hou selfs van Daniël. Hy wil Daniël aanstel as leier oor die hele land. Dit maak die ander leier erg jaloers. Hulle is die probleem. Hulle bedink `n komplot om Daniël van verraad aan te kla. Maar dit is eintlik hulle wat verraad pleeg.
Hoewel die koning nie die probleem was nie, was hy ook nie baie behulpsaam toe Daniël bedreig was deur die ander leiers nie. Hy het nie die reël bespreek nie, wou nie `n ander dekreet maak nie, en was eintlik bietjie doelloos. Hy was passief en bang vir die leiers wat hom intimideer.
• Jou veiligheid is nooit regtig in die wêreld verseker nie. Nie eers al hou die koning van jou nie.
• Ps142:6 Ek roep na U om hulp, Here, ek sê: “U is my toevlug, buiten U het ek geen deel in die land van die lewendes nie!
• Wat beteken die vers vir jou in tyd van onsekerheid en bedreigings?
Daniël is foutloos onskuldig.
Daniël word onskuldig in die leeukuil gegooi. Vir die lesers in diaspora en selfs vandag is dit belangrik. Soms word ons onskuldig vervolg, of gaan ons “onskuldig” deur slegte tye. Soms tref die lewe ons hard en dan wonder ons hoekom ons so “onskuldig” vervolg word. Dink aan jou Meester. Hy was ook onskuldig vervolg. Hy het gesê ons sal ook vervolg word.
Daniël se onskuld is sigbaar. Die vyande praat van hom in vers 5. Hulle sê hy is betroubaar. Hy was betroubaar dwarsdeur die vorige hoofstukke ook. As hy gepraat het was dit waar en het dit waar geword. Hy is opreg. Hy dien God.
• Hoe ver strek jou betroubaarheid?
Wanneer Daniël gaan bid staan daar dat hy God gedank en geprys het. In die Aramees is daar niks wat hy gevra het nie. Die dekreet het tegnies beteken dat niemand `n ander god mag vra vir hulp of enige iets nie. Daniël het niks gevra nie. Hy het God gedank en geprys. Ook hierin was hy tegnies onskuldig aan die aanklag. Feit is hy was getrou aan God en onskuldig teenoor die koning.
Die aanklaers beskuldig hom van sy gebed. Hulle bewoording is die teenoorgestelde van wat Daniël gedoen het. Hulle woorde in Aramees sê dat hy gevra het terwyl hy gebid het.
Verder sien ons Daniël se onskuld wanneer hy in stilte na die leeukuil gaan. Weer soos Jesus sonder om teë te stry gaan hy na die dood. Die koning is beangs by sy paleis die nag, terwyl Daniël in vrede in die pit is. (Of in stilte in die pit is. Die skrywer sê niks oor Daniël in die pit nie. Dit beklemtoon sy onskuld).
• Rom 2:10 Ewige heerlikheid, eer en vrede skenk Hy aan elkeen wat goed doen, in die eerste plek aan die Jood, maar ook aan die nie-Jood.
• Wat beteken die vers vir jou?
• Php 4:7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
Net God kan red
Die koning hou van Daniël, maar kon nie veel doen om hom te help toe die vyand soveel intimidasie op hom toepas nie. Daar staan dat hy vir Daniël wou red. Hy het tot die aand toe planne probeer maak hoe om vir Daniël te red, maar dit was nie genoeg nie. In hierdie wêreld kan nie eers die koning jou red nie.
Ps 20:8 Sommige vertrou op strydwaens en ander op perde, maar óns, ons vertrou op die Naam van die Here ons God.
Die woord vir “red” in vers 15, is `n werkwoord wat gewoonlik by die werk van God pas. God se reddingswerk in die verlede was gewoonlik beskryf met daardie woord. Hier wys die skrywer dat die koning nie God se werk kan doen nie. Later in vers 17 word die woord weer gebruik. Die keer met betrekking tot die God van die heelal. Net Hy kan red!
Daniël se vrede in die pit word ook uitgebeeld wanneer die skrywer in vers 24 sê dat Daniël gered is omdat hy op God vertrou het.
Vers 22-23 beskryf geregtigheid van Daniël. Hy het niks verkeerd gedoen teen die koning nie, niks verkeerd gedoen teenoor God nie… die leeus het niks aan hom gedoen nie, daar was “niks” letsels aan hom nie. Daarom is dit duidelik om af te lei dat daar geen ongeregtigheid was in Daniël nie. Sy vertroue/geloof in God het hom geregtigheid gegee. Baie soos Abraham. Hy het geglo, daarom het God hom geregtigheid gegee. Daniël leef en tree foutloos en reg op, omdat hy volledig op God vertrou.
• Hoe leef jy in geregtigheid voor God? (onthou dit kom uit geloof)
• In Christus skenk God ons die geregtigheid. Glo dit.
Slot
Die verhale in Daniël 1-6 eindig elke keer goed, maar die Jode in verdrukking sien dat gevaar gereeld voorgekom het. Dat Daniël en sy vriende gereed was om gehoorsaam te wees selfs al sou dit dood beteken. Dit beteken vir die Jode in verdrukking dat hulle altyd gereed moet wees teen die aanslae van die vyand. Dreigemente kan enige tyd kom, vanuit enige hoek.
• Spr. 24:16 Al val die regverdige hoeveel keer, hy staan weer op, maar die goddeloses word deur rampe vernietig.
• Wat beteken die vers nou vir jou in die lig van Daniël se verhaal?
Daniël 6 kan maklik opgesom word deur Spr. 24:19-22
Moet jou nie ontstel oor skelms, jou kwel oor goddelose mense nie, want ‘n slegte mens het nie ‘n toekoms nie; die lewenslig van die goddeloses word uitgedoof. Dien die Here, my seun, en ook die koning; moet jou nie ophou met oproermakers nie. Hulle ondergang kom skielik; niemand weet wanneer die Here en die koning hulle vernietig nie.
Daarom vat `n oomblik en dink oor die onsekerheid waarmee jy nou leef. Dink aan jou dreigemente. Dink aan die vyand wat tans jou lewe versuur. En weet dat sy ondergang ook sal kom. Hou moed en geloof. God is getrou. Hy was vir Daniël en sy vriende, en Hy sal ook vir jou wees. Hy kom beslis.
1 Mei 2020 - HERSTEL (5)
Daniël 5 – Skrif teen die muur!
Inleiding:
• In Daniël 4 was Nebukadnesar een wat ook verwaand geraak het, en tog het God hom vergewe en die storie eindig goed! Daar is selfs komiese elemente in – Hy word soos `n bees.
• Belsasar raak verwaand, maar kry nie `n 2e kans nie, en niks in die verhaal is snaaks nie.
• Die partytjie met al die belangrike mense teenwoordig beklemtoon die mag van Belsasar, maar ook sy hoogmoed.
• Almal wat daar was het die skrif gesien! Dis nie dalk `n vyand wat dit ongesiens kom skryf het nie. Vrees is in orde! Die baie woorde wat Belsasar se vrees uit druk lê klem op die afstand tussen Belsasar en God. God is soveel anders, Hy is die Een wat met vrees gedien moet word.
Die Koningin se helder oomblik
Gereeld as Konings in die Bybel sulke fees-partytjies gehou het, het daar moeilikheid gekom. Belsasar laat kom die bekers van die tempel. Hy spot met die Jode en hulle God. Hy laat ook ander deel in sy verwaandheid en sonde. Hy bring `n koninkryk tot `n val omdat hy hulle polities en geestelik in die verderf in lei.
In die eerste paar verse word gepraat van sy vroue en byvrouens. Wanneer die koningin inkom later in vers 10 is sy soveel anders. Die woord wat haar beskryf is anders as die vroue wat deelneem aan die drinkery. Dit maak haar oomblik van wysheid soveel meer duidelik.
Die koning het eerste sy raadgewers geroep. Hy dink nie eers aan Daniël nie.
Interessant:
Hoekom vra die koning nie van die begin af vir Daniël nie?
o Daniël nou redelik oud (histories)
o Hy weet Daniël se boodskap gaan vir hom sleg wees (psigologies)
o Skep goeie vertellingsmetode… Daniël kom met Goddelike insig nadat die ander misluk het (Retories)
Wanneer die koningin inkom bring sy `n helder oomblik van wysheid. Die woord wat “binnegekom” beskryf se letterlike vertaling het te doen met “blink” of helderheid. Sy skitter in vergelyking met die koning wat bleek geword het van vrees. Hy word dom bang, en sy wat aan God se dienaar dink blink.
Kyk hoeveel keer verwys sy na die voorganger.
• Waarom sal sy Belsasar “vergelyk” met die Nebukadnesar?
• Wanneer Daniël later inkom verwys hy ook paar keer na Nebukadnesar in vergelyking met Belsasar. Duidelik was Belsasar nie bekwaam om koning te wees nie.
• Sy verwys na Daniël was besondere gawes het. Dat die gees van die gode op hom is. Wat kan dit als beteken? Hoe dink jy verstaan die Jode wat dit lees dit?
• Soos Nebukadnesar by Arjok van Daniël hoor, hoor Belsasar by die koningin van Daniël. Waarom sal hy by `n minderwaardige moes uitvind? (vroue was minderwaardig in daai tyd…)
Die “skrif was teen die muur” voor die skrif teen die muur was!
• Belsasar was die seun van Nabonidus, en hy het vroeg nadat hy aan bewind gekom het hy in Arabië gaan woon en die beheer vir sy seun Belsasar gegee… dis hoekom Daniël slegs 3e in rang kon word… (Daar is verskille oor die navorsing, maar die feit is dat die skrywer doelbewus Belsasar gekoppel het aan Nebukadnesar sodat hy hom kon opstel in die lig van Nebukadnesar se verhaal.) Die woord “voorganger” kan ook “vader” beteken.
• Omdat die koninkryk verdeeld was het dit die paleis en koninkryk bietjie verswak het kon Darius (6:1) en sy manskappe van die loop van die Eufraat rivier die stad binnekom!
• Hulle manskappe was al gereed en eintlik reeds in beheer van die inval toe die partytjie aan die gang was! Reeds toe was die “skrif teen die muur” vir Belsasar!
• Hierdie vertelling is vir die Jode van die diaspora en dit beklemtoon ander belangrike geloofsake vir hulle wat ook onder druk is van slegte leiers en omstandighede. God is besig om die ondergang van die vyand te beplan terwyl jy swaarkry. Terwyl jy bespot word, en dink dis die einde vir jou. God is agter die skerms besig om dinge gereed te maak vir Sy oorwinning. Daarom bly net vashou aan Hom.
Belsasar word bang
Sy vrees maak dit duidelik dat daar `n wesenlike verskil is tussen hom en die God van die heelal.
Dit beskryf ook die afstand tussen God en `n mens. Ons moet ons plek ken voor die Heilige God.
• Gou roep hy hulp in om die skrif te ontrafel
• Nadat die Koningin van Daniël gepraat het, praat Belsasar met hom oor selfs meer as wat sy gesê het… Belsasar het “geweet” van hulle en hulle God!
• Dit dui ook daarop dat God aktief betrokke is in die ballingskap van die Jode! Ook so is God betrokke in jou krisis tye.
• Belsasar verwys na Daniël as die Judese balling wat gebring is. Dit is met spot en vermaaklikheid wat hy minderwaardigheid van Daniël beklemtoon. Tog lig God Daniël later bo die koning. Belsasar moes maar net kyk hoe God Daniël se woorde gebruik. Amper soos Ps. 23:5.
• Daniël wyer die geskenke: om “omkoop” te vermy. (sodat sy boodskap nie beïnvloed kan word nie)
• Berou??????
• Dawid het kans gekry op berou nadat Natan hom aangespreek het, Nebukadnesar kon berou nadat Daniël hom aangespreek het… Nineve kon berou…Hoekom nie Belsasar nie?
• Hy het nie by sy voorganger geleer nie… Hy het geweet… (22)
• Ons wat “weet” het meer verantwoordelikheid!
Dood
Sonde se uiteinde is die dood. Om reg voor God te leef bring lewe. Om God te dien met wysheid bring lewe. Belsasar is verwaand voor God. Hy stel homself bo God. Hy trek die res van sy koninkryk in by sy sonde. God haat afgodery. Ps. 115:3-8, 135:15-18 en Jes.40:18-20 dui daarop. Eindelik val die koninkryk want dis op afgodsdiens gebaseer. Hulle hele politieke en geestelike sisteem faal omdat die fondasie op afgode gebou is. Daarom sterf Belsasar met `n boodskap vir die Jode.
• Hoogtepunt in die verhaal! Beklemtoon God se beheer en Hy alleen moet geëer word!
• Die verhaal dui op die “limiet” op mense se lewens, en hoe daar “Goddelike beheer oor elke lewe is”
• Ons word nie gesê wie hom doodmaak nie, maar dis duidelik dat God in beheer was daarvan!
• Ons kan God vertrou, selfs al handel wêreld regerings verkeerd! Hy gebruik ook die magte om Sy regverdige doel te bereik!
• Wêreld regerings word uitgebeeld as “pione” in God se hand.
• Wêreldmagte is real, maar onder die hand van God!
• Vir die Jode in die diaspora was die boodskap baie belangrik. Die bose koning is vernietig en hulle leef steeds. God sal die regverdiges beskerm. Wees getrou, nederig voor God en Hy sorg vir die geskiedenis.
29 April 2020 - HERSTEL (4)
Daniël 4 – Die regte perspektief is belangrik.
Inleiding:
In hoofstuk 3 het Nebukadnesar wel Daniël se vriende geprys, maar ons het gesien dat sy hart nie regtig verander het nie, In die hoofstuk sal ons weer sien dat sy hart nie verander nie. In die laaste episode van Nebukadnesar se optrede verander God sy nalatenskap vanaf `n magtige heerser na `n onderdaan van God se besluite. Sy laaste woorde van oorgee aan God is nie nederige oorgawe nie, dis eerder `n bewys van sy vernedering deur God. Hy wat Nebukadnesar is, is verslaan deur God.
Hierdie slefgelukwensende koning is bang vir sy eie drome. Hy is nie jammer oor sy gedrag nie, eerder jammer dat hy uitgevang is. Uitgevang dat hy minder is as wat hy gedink het. Hy het gedink hy is `n redder, nie net vir homself nie, maar ook vir ander. Hy was sy eie “hero”.
• Is jy ook `n “hero” in jou eie verhaal?
Hero of zero?
In die hoofstuk word Nebukadnesar se eie woorde gebruik om sy perspektief te skets. Dis wat hy dink gebeur het en dis wat hy probeer weergee vir sy onderdane in sy koninkryk. Hulle moet ook verstaan dat hy so groot is soos hy dink hy is. Sy eie woorde is opgeskryf in verse 1-18, 34-37.
In vers 1-4 skryf Nebukadnesar asof hy so groot is dat die gode aan hom tekens bewys het. Dit gaan oor hom en sy eie beeld van mag. Hy het rustig en voorspoedig geleef… die gode het wonders en tekens aan hom gewys. Hy is die middelpunt van daardie sinne.
Die Jode verstaan “wonders en tekens” heeltemal anders. Hulle word deur die woorde herhinner aan die dade van God in Egipte, toe God die Faroa verneder het. Die Jode besef dat Nebukadnesar ook verneder sal word.
Hoogmoed kom voor die val (soos die boom): Spr.6:16-17, 8:13, 16:18
Ps 131:1 ‘n Pelgrimslied. Van Dawid. Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is.
• Wat beteken Ps.131:1 vir jou?
• Dinge bo jou vermoë is dinge wat binne God se hande is… Wil jy ook soms beheer by God oor jou lewe oorvat?
Kyk hoe vergelyk Nebukadnesar se weergawe (10-17) van sy droom met Daniël se weergawe (20-26)
Daar is 5 verskille…kon jy dit raaksien? Laat weet my as jy het…082 718 7298 (:
• Hierdie verskille dui ook op hoeveel Nebukadnesar van homself gedink het. Kan jy sien hoe vol van homself hy was?
God is in beheer
Vers 10 verwys nie na `n oorsprong van die boom nie. Asof Nebukadnesar sê… “toe ek sien- Boom.”
Groot en sterk! Middel van die aarde. Almal het geëet van die boom. (Daniël se weergawe sê, “alma; kon eet).
Nebukadnesar vergelyk homself met God. Die skrywer laat dit toe om God teenoor die panteon van Babel te stel. Ook wanneer hy Daniël, Beltsasar noem, is dit om die Babelse gode teenoor God van Daniël templaas. Baie soos Elia op Karmel. God teen die gode van Babel.
• Aan watter aanhalings van God laat die vers 10 jou dink? Gen.1:1, Eks.3:14
Die lesers van Daniël, die gelowiges van die diaspora, ons vandag ook, moet besef dat God in beheer is van alle maghebbers. Al dink hulle nie so nie, al lyk dit nie altyd so nie. Die verhaal wys ons duidelik dat God besluit oor Nebukadnesar soos Hy wil. (24)
Verse 28-33 in in die 3e persoon geskryf. Dis die weergawe van die outeur. Hy is betroubaar en het die volle prentjie. Die woorde van Daniël het presies uitgespeel soos hy verduidelik het in sy weergawe. Die stem uit die hemel klink amper presies soos Daniël se woorde. God se dienaar is betroubaar. As ons net Nebukadnesar se woorde gehad het sou ons nie die deel oor die “starf” gehad het nie. Sy lesers sou kon dink dit het nie gebeur nie. Maar die outeur stel die Jode gerus met die volle prentjie. Die straf oor diemslegte koning het gebeur. God se eer is in plek. Hy is die grootste.
Nebukadnesar se herstel is ook deel van God se besluit. Nebukadnesar laat dit klink asof dit weer oor hom gaan. Maar die Joodse lesers weet beter. Hulle sien God se beheer in dit als.
• Watter beheer moet jy vandag aan God oorgee?
God se koninkryk
Nebukadnesar sê in vers 3 dat god aan hom tekens en wonders gewys het. En dat god se koninkryk ewig sal wees. Die Babiloniese onderdane sou hier kon dink dat Nebukadnesar groot is, want die gode is so na aan hom. Maar die Jode wat die lees weet beter. Hy praat van die gode van Babilon. Hulle weet ook dat God se koninkryk een is van “reg en geregtigheid”. Niks van dit is sigbaar in Nebukadnesar se koninkryk nie.
God soek ewige reg en geregtigheid.
Lees Ps.1 – Die boom by waters is goed vir die om hom.
God wil hê ons moet so boom wees, wat vrug dra wat ander kan eet. Nebukadnesar sê almal het geëet van die boom in sy droom, maar Daniël stel dit beter as hy sê dat almal kon eet, hulle het nie. Nebukadnesar was nie so `n koning nie. Hy was nie `n boom wat reg en geregtig was nie. Daarom sal God hom verwyder. Die einde van die verhaal, na Nabukadnesar se onoortuigende godsverheerliking, wat hy inlei met woorde oor homself, is baie kortaf. Nebukadnesar verdwyn van die toneel af. Soos mis voor die
son.
• Wat beteken vers 27 vir Nebukadnesar, die Jode en vir jou?
• Reg en barmhartigheid is dieselfde as reg en geregtigheid. Dis woorde wat God se regering verteenwoordig. Hoe lyk dit in jou lewe?
Gelowige waagmoed
Verse 19-27
Wanneer Daniël die droom moet uitlê is hy eers verstom. Hy staan verbaas en wens eintlik hy hoef nie die boodskap oor te dra nie. Dis `n gevaarlike uitleg om te gee vir `n tiran wat jou sommer net kan doodmaak. Dis moeilik om in daardie posisie te wees en die koning te oordeel.
Daniël tree weer baie wys op. Hy versag die boodskap deur die uitkoms in vers 26. Daar is `n moontlikheid dat God dit nie sal laat gebeur nie. Daar is selfs genade wanneer God 12 maande wag…
Daniël verander van die koning se woorde in sy verklaring, maar hy laat nie die betekenis en oordeel uit nie. Daniël maak die boodskap sagter meer ontvanklik, maar sonder om die boodskap se integriteit te bedreig. Hy spreek vers 27 sonder om te wag vir die koning se reaksie op 26.
• Wanneer jy onder druk is, in moeilike omstandighede, sal jy ook braaf wees in geloof soos Daniël?
• God bewys Daniël se betroubaarheid in die uitvoer van die oordeel. Jy kan God vertrou met jou opregte eerlikheid ook.
Boodskap vir die gelowige in moeilike omstandighede: Bly getrou en opreg. Hou aan om die regte goed te doen. Moenie afwyk van die waarheid af nie. God is getrou, Hy sal die uitkoms beheer.
Jou getrouheid sal die toets van tyd deurstaan.
27 April 2020 - HERSTEL (3)
Daniël 3 – Getrouheid vir ewig is meer werd as beter omstandighede.
Inleiding:
Ons moet besef dat koning Nebukadnesar `n bietjie mal is. Hy is onvoorspelbaar en wreed. Dis `n slegte kombinasie vir `n onderdaan. Jy weet nooit wanneer hy aan een of ander wrede gedagte gaan kom om homself te laat goed voel of lyk nie.
Hy het nie geleer in hoofstuk 2 dat hy meer nederig in die teenwoordigheid van God moet leef nie. Hy wat gedink het hy is die grootste ooit, moes in `n droom leer dat God se koninkryk ewig sal wees, maar syne nie. Hy is tydelik en God is nie.
Die beeld waaroor hy gedroom het se kop was van goud. Dit verteenwoordig Nebukadnesar of selfs Babilon. In hoofstuk drie sien ons dat hy weier om daardie droom se uitleg te aanvaar. Hy maak `n baie groot beeld geheel uit goud. Dit verteenwoordig hom of sy god of sy koninkryk as een soliede goud, vir ewig. Hy besef nie sy tydelikheid nie.
Vrees
Die skrywer het moeite gedoen om die lesers vrees in die situasie van Daniël se vriende te laat ervaar. Die beeld is geweldig groot. Die oond is 7 keer warmer gemaak. Die oortreders sal onmiddellik ingegooi word. Die koning was wit van woede. Hulle was vasgebind. Die sterkste manne bind hulle vas. Al die volke moes neerval en aanbid.
Bo dit alles was die woorde (vers 3), wat die klomp leiers en musiek instrumente noem, woorde wat kom uit die Persiese era. Die goewerneurs was gewoonlik die uitvoerders van die moorde. Hulle was gevreesde mense. Ook die goewerneurs-generaal was dikwels bekend vir magsmisbruik. In hoofstuk 2 was al die raadgewers in gevaar. In hoofstuk 3 is meer mense in gevaar. Al die Jode wat nie die beeld sou aanbid nie is in gevaar. Die dreigement is soveel groter.
• Dink nou as `n eerste lesers. Hoe sou die vrees jou laat voel het?
• Wat in jou lewe sal so vrees by jou wek?
Dit is die vrae in die gemoed van die Jode in die diaspora. Die tyd na Ballingskap wat hulle steeds onder druk word deur die Persiese regering. Dis die vrae in die gemoed van mense vandag wat in onseker tye leef. “Sal `n mens kan gelowig bly in sulke omstandighede?”
• Sal jy gelowig bly te midde van bedreiging of onsekerheid?
Dikwels hou mense aan God vas omdat hulle iets van Hom soek? God wil egter hê dat ons Hom sal aanbid omdat Hy God is en nie omdat Hy kan red nie.
• Wat sien jy hieroor raak in vers 18?
• Is dit ook jou motief om God te aanbid?
Vasgebind
Daniël se vriende word vasgebind deur die sterkste manne in Babilon. Hulle word in die oond gegooi, en hulle val in die oond neer. Niks van hul aksies word hier beskryf nie. Net die woede van die koning en sy oorreaksie. Daar staan niks dat God die vuur minder erg maak nie.
Die lesers beleef ook so `n situasie van vasgebind wees. Hulle is uitgelewer aan die owerhede. Hulle hand is afgekap, vasgebind… hulle is weerloos. Wat sal God doen?
Nebukadnesar tree Godslasterlik op wanneer hy vra: “Watter god sal julle uit my mag red?” vers15. Die spanning is tasbaar hierna. Wat sal God nou doen?
• Het jy al ooit magteloos gevoel soos die vriende?
• Hoe lyk hulle reaksie?
• Wat moes jy doen in vergelyking met wat jy gedoen het in jou situasie?
Hierdie woord vir “vasgebind” wees is dieselfde woord wat gebruik word vir offers op `n altaar. Of vir die Lam wat ter slagting gevat word. Of soos ons weet Jesus wat gekruisig is vir ons. Sonder teenstand. Sonder `n woord. Hy dra die lot.
Hierdie vriende val in die oond voor God, anders as die res van die volke wat “val” voor die beeld van Nebukadnesar.
• Lees Ps.46:11, Jes.30:15
• Wat leer die verse vir jou?
God red
Die vriende word `n voorbeeld vir gelowiges in moeilike omstandighede. Omstandighede waar die vuur warm is en die vyand woedend is. God maak nie die vuur koeler en die vyand dood nie. Maar God is by hulle in die oond. Hy rig hulle op.
Daniël se vriende word deur die Galdeërs beskuldig dat hulle hulle nie steur aan die afvaardiging van die koning nie. Hulle maak asof die vriende niks gehoorsaam is aan die koning nie. Hulle moes die reg handhaaf in die hofhouding van die koning, maar toe tree hulle teen die afvaardiging op.
Let op dat die koning in vers 13-14 nie aandag gee aan die hele aanklag nie. Dis duidelik dat hulle teen die afgodery was. Maar hulle kon steeds gehoorsaam en onderdanig wees aan van die ander reëls van die koning.
• Lesers en gelowiges bevind hulself dikwels in die wêreld waar hulle reëls van “ongelowiges” moet volg. Dis nie onmoontlik nie. Gelowiges moet net nie ander gode dien nie. Maar ons kan steeds reg doen.
• Lees Rom.13:1-6, wat leer die vir ons?
Ons sien dat God die vriende red uit die oond, en die koning besing hulle lof. Hyself is nie gerehabiliteer van sy afgodery en sy despotiese gedrag nie. Sy taalgebruik dui ster daarop. Hy tree steeds magsbehep op. Tydelik is hulle uit die gevaar.
• Die doel in nie sekuriteit of verligting van jou omstandighede nie!
• Wat is die doel van die verhaal? Vers 17-18
24 April 2020 - HERSTEL (2)
Daniël 2 – ‘n Les vir ‘n maghebber, sonder begrip.
Inleiding:
Daniël 2-7 is in Aramees geskryf. Anders as Hoofstuk 1 wat in Hebreeus geskryf is. Dis belangrik, want die skrywer wil hê dat die eerste lesers moet verstaan dat hoofstuk 1 die Joodse ideologie en Teologie beklemtoon. Dit gaan oor die Jode wat lesse leer in hoofstuk 1. Nou gaan dit oor die groter wêreld wat lesse moet leer in hoofstuk 2-7. God is in beheer oor die res van die wêreld ook.
• Dink nou weer aan die verspreiding waarin die gelowiges leef. Hulle is tussen verskillende godsdienste, word verdruk as minderheidsgroep en wonder soms of God hulle raaksien te midde van hulle situasie. Hoe voel jy soms as vreemdeling in jou wêreld? Dink jy die omgewing waar jy jou elke dag bevind hou rekening met God se almag?
Lees Daniël 2 rustig deur:
• Vertel in jou eie woorde weer die storie.
2:1-4 Nebukadnesar was seker die magtigste koning van Babel. Hy was op daardie stadium die magtigste man op aarde. Wat sien ons van so `n magtige man in vers 1?
• Wat sal jou laat wakker lê? Hoekom sal hy wakker lê?
Nebukadnesar se sekuriteit het in sy mag en koninkryk gelê… as jy dit wegvat is hy niks.
• Waarin lê jou sekuriteit?
• Die Heidelbergse kategismus vraag 1: Wat is jou troos in lewe en in sterwe?
• Kan dit van jou weggevat word?
2:5-11 Hier vind die debat plaas oor die onmag van die Babiloniese wyses. Die goëlaars, towenaars, voorspellers en sterrekykers. In daardie tyd het hierdie ouens boeke gehad waarin probleme of vrae opgeskryf was. Wanneer iemand soos die koning dan `n vraag vra oor die toekoms sou hulle `n antwoord uit die boeke kon lees. Amper soos `n memorandum van die lewe. Hulle het geglo dat die gode vir sekere wyses tekens gegee het oor die toekoms en dat hulle so die toekoms en uitkomstes kon uitlê. Nebukadnesar neem daardie opsie weg, omdat hy wil hê hulle moet regtig by die gode hoor wat sy droom was en dit uitlê.
Die versoek is regtig te veel gevra vir enige mens. En hoewel hulle sê dat hulle staatmaak op hul goed, sê hulle ook dat die gode te ver is om so antwoord te gee. Dis onmoontlik. Dis nie waar nie, want die waarheid is eintlik dat hul gode nie bestaan nie. (vers 11) So tart die skrywer dan ook die gode van die Babiloniërs.
2: 12-16 Die koning is wreed in sy reaksie op die wyses se antwoorde. En tog bly hulle met hom redeneer. Dan proklameer hy die doodstraf. Daniël en sy vriende is ook nou in gevaar.
• Hoe sou jy voel as jy in Daniël se skoene was?
• Hoe reageer Daniël? Hoe verskil dit van die Babiloniërs?
In hoofstuk 1 sien ons Daniël se wysheid in die regte dinge doen. Hier sien ons sy wysheid in sy reaksie. Hy is nederig en onderdanig. Dit kom uit die woordjie “versigtig”.
Arjok luister na Daniël. Dis amper teen verwagting, want hy was reeds op pad om hulle dood te maak.
Daniël is baie braaf om self na die koning te gaan. Veral in die lig gesien dat die koning onstabiel is en net wil doodmaak.
2: 17-23 Tot hier gebeur dinge in die verhaal vinnig. Die skrywer het kort sinne intens beskryf om dringendheid en angs te wek by die lesers. Die verhaal is spanningsvol. En dan wen Daniël tyd. Dis asof hier `n ruspouse ingesit is. Die verloop gaan nou bietjie stadiger.
Die vertraging in die vertelling is om klem te lê op Daniël se optrede.
• Wat sien jy het Daniël gedoen?
In die hofhouding van die wêreld is ons soms alleen, soos Daniël tussen die Babiloniese wyses, maar in die gesin van die gelowiges is ons nooit alleen nie. Daniël gaan vra sy vriende om saam met hom te bid. Ons is `n eenheid in die stryd. Soek vir jou gelowige vriende om die pad saam mee te loop.
❖ Interessant:
Daniël kon nie offers bring om God aan te roep nie. Die tempel was vernietig en hy was nie naby Jerusalem nie. Hy besing toe God se grootheid. Sy lof dien as offer, soos Psalm 50. Vir die mense in die verspreiding na ballingskap, wat ook nog onder druk is, wat ook nie `n tempel het nie, wat ook nie naby Jerusalem is nie, was dit belangrik om te verstaan dat mens God enige plek kan aanroep. God is nie net in die tempel vasgevang nie. Hy is oral. Hy hoor. Ons kan gemeenskap met God hê al is die tempel vernietig.
Vers 21 beklemtoon die kern van die hoofstuk. God is in beheer van alle geskiedenis. Ook joune.
• Wat staan vir jou uit in Daniël se lofprysing?
2: 24-30 In die deel lyk dit amper asof die koning vergeet het wie Daniël is. Dan as Daniël Beltsasar genoem word gee hy aandag. Dit herhinner die leser aan die afgod van Nebukadnesar. In vers 28 word die afgod weer in perspektief geplaas. Net die God van die Hemel kan die geheime openbaar.
• Vergelyk vers 11 nou met Daniël se antwoord in vers 28?
• Hoekom wil God hê moet Nebukadnesar weet wat die droom beteken?
2:31-45 Beskryf Daniël die droom en sy uitleg. Die beeld is baie groot. Dit word beklemtoon hoe groot hy is. Die mag is deur God aan Nebukadnesar gegee. Dit tart eintlik die koning. Hy dink hy is magtig, maar hy het dit gekry by God. Hy is nie so groot soos hy dink nie.
• Wat sê vers 37-38 van Nebukadnesar en van God?
• Watter hoop hou vers 44-45 in vir die gelowiges in die verspreiding? Of self vir jou vandag?
2:46-49 Die koning verstaan iets, maar ook maar net bo langs. Hy besef nog nie regtig wie God is nie. Die volgende hoofstuk sal daarmee help. Tog word Daniël se situasie van naby dood omgedraai na verhoogde posisie. Dis als binne God se beheer. In enige omstandighede is Daniël `n voorbeeld, want al lyk enige tiran of krisis onoorkombaar staan hy ook op voete van klei. Dit sal ook verbygaan. God sal regeer, want Hy is in beheer. Hy stel konings aan en hy verander tye en omstandighede. (21).
22 April 2020 - HERSTEL (1)
Daniël 1 – Gelowige wysheid in ‘n vreemde tyd.
Inleiding:
Daniël is geskryf in die Persiese era. Na die ballingskap toe die Jode versprei was in die destydse wêreld en tussen vreemde volke met hul vreemde godsdienste gebly het. Dis geskryf om die Jode te help om hul huidige situasie te verstaan en hoe om daarin te leef. Die terugkyk na die verhaal van Daniël help hulle om `n voorbeeld te hê van hoe `n gelowige kan leef in onderdrukking en vervolging.
• Bv. Soos God vir Daniël en sy vriende gesorg het in Babel, so sal God vir die Jode sorg in die vreemde plekke waar hulle is, en so sal God vir jou sorg waar jy is.
• Soos Daniël getrou was, so moet die Jode in die diaspora ook getrou wees en so moet ek en jy ook in moeilike omstandighede getrou bly.
• Soos God in beheer was ook in Babel, so is God ook in beheer gewees in die Persiese tyd en so is Hy steeds in beheer vandag.
Daniël en sy vriende se identiteit word uitgedaag in die hofhouding van Nebukadnesar, so ook was die identiteit van die Jode in die Persiese ryk uitgedaag en so ook word my en jou identiteit daagliks uitgedaag in die wêreld waarin ons leef. Die groot vraag agter die verhaal: “Sal ons getrou kan bly aan God? Sal ons getrouheid `n verskil maak?”
• Waarin lê Daniël en sy vriende se identiteit?
• Waarin lê jou identiteit?
• Hoe was Daniël en sy vriende se identiteit sigbaar? En hoe sal jou identiteit sigbaar kan wees?
Met die val van Jerusalem en die vernietiging van die tempel was aanbidding en godsdiens uitlewing nooit weer dieselfde nie. Die volk in ballingskap en in die diaspora moes op `n nuwe manier hul geloof uitleef.
❖ Hoe het Daniël en sy vriende dit reggekry? Hoe kan jy dit regkry as ons manier van aanbidding ook moet verander?
Interessant:
Die name van Daniël en sy vriende het in Joods direkte koppeling met God se name. Na die verandering in vers 6 word dit gekoppel deur die Babiloniërs met Babel se gode. Dit was `n manier om met hulle te spot. Maar die skrywer gebruik baie min die veranderde name in die boek, en hy spel dit waarskynlik doelbewus verkeerd. Op die manier spot die skrywer weer met die afgode. (Onthou nou die eerste lesers is Jode in verspreiding wat nodig het om te weet dat hulle God die ware God is en dat die afgode niks werd is)
Die name se betekenisse:
Daniël – God is my regter. Beltsasar -Eer aan Bel/Marduk ; Gananja – God is genade. Sadrag – Mag van Aku ; Misael – Wie is soos God?. Mesag – Wie is soos Aku? ; Asarja – Die Here help. Abednego – Dienskeg van Nabu/Bel.
Lees Daniël 1: En dink mooi oor die verhaal.
• 1:1-2 dek die tafel vir die res van die verhaal. Hoe moes die gelowiges voel toe koning Nebukadnesar Jerusalem verwoes het? Ook die tempel… en die heilige toerusting van die tempel is weggevat?
Interessant:
Sinar beteken “plek van eiesinnigheid”. Daar waar elkeen vir homself besluit en hardkoppig en dwaas is. In daardie plek staan God se tempelgereedskap en getuig in die stilte. Ook daar waar die jongmanne op `n nuwe manier van “heilig lewe” moet vind.
• 1:3-7 Wat probeer koning Nebukadnesar in die verse regkry? Hoekom doen hy die dinge met die jongmanne?
• Ons bevind onsself meer gereeld in so `n situasie as wat ons dink of besef. Ons wêreld wil ook die hele tyd ons wegvat van ons Goddelike identiteit. Ons wêreld wil ons ook indoktrineer met dinge wat nie van God kom nie. Hoe kan jy jouself bewaar van eenwording met die wêreld?
Lewenslesse:
1. Waagmoed en getrouheid getuig teen die bose “koning”.
2. God behoed en bewaar Sy kinders met wysheid en insig tydens vervolging en krisis tye.
Hulle toets en ons toets is dieselfde: Gaan ons word soos die wêreld?
Wysheid begin met die dien van die Here. Daniël het net gedoen wat hy weet reg is in God se oë, en God het dit tot sy voordeel gebruik. Daarom leef met wysheid!
• 1:8-17 Watter drie goed staan vir jou uit in die gedeelte?
• Vers 8 praat van “voorgeneem”. In Hebreeus kon dit vertaal word met “ter harte geneem”… Dis `n woord wat gewoonlik met God se wet/wil gebruik word. Dis waaroor Daniël ernstig gedink het voor hy die voorstel gemaak het.
Lewensles:
God kan een man gebruik… vir jou ook!
• 1:18-21 Sien die gevolg van Daniël en sy vriende se getrouheid?
• Wat sal die vrae in hulle gemoed wees voordat hulle voor die koning moes verskyn?
• Ons worstel ook soms met vrae. Sal ons goed genoeg wees? Sal ons onregverdig beoordeel word? Sal ons suksesvol wees in die sekulêre wêreld en ons geloofsbeginsels behou? Wat leer ons uit Daniël se verhaal oor die vrae?
• Vers 21 praat van Kores. Die einde van Ballingskap. Ballingskap was omtrent 70 jaar lank. Daniël was in die hofhouding van die begin tot die einde… wat sê dit van hom? En wat leer jy uit sy voorbeeld?
20 April 2020 - HOOP (10)
Luk. 7:18-28 – Hoop gaan deur twyfel
Inleiding:
As daar een man in die vroeë geskiedenis is van die Christelike kerk wat nie moes twyfel nie, was dit Johannes die doper. Kyk die volgende dele van sy bediening. Sien hoeveel oortuiging hy gehad het.
• Lees Luk.3:15-17, Matt.3:1-3 en 13-17, Joh.1:19-34
Kyk hoeveel verskille is daar in die dele wat ook baie ooreenstem?
Sien veral in Joh 1:32-34
Lees nou Luk.7:17-28
Hoekom sou Johannes twyfel?
Johannes is in die tronk, omdat hy die keiser aangespreek het oor sy buite egtelike verhouding. Die keiser was nie baie ingenome met hom nie, en het hom laat vang. Tronke in daardie tyd was nie maklike plekke nie. Ook daar oorval twyfel vir Johannes.
• Hoekom twyfel jy soms?
Ons moet nie te maklik vir Johannes oordeel nie, twyfel is epidemies, of pandemies soos die Koronavirus. As gelowiges wil ons nie maklik erken dat ons soms ook twyfel nie. Ons sien dit as `n swakheid wat ons nooit mag wys voor ander nie. Maar dis net so kragtig in jou lewe soos standvastige geloofsekerheid.
Ons moet nie twyfel onderskat nie.
Ons dink twyfel is die teenoorgestelde van geloof.
Die teenoorgestelde van geloof is ongeloof. Dis nie twyfel nie. Ongeloof is om doelbewus God se redding in Jesus Christus te ontken. Twyfel is om op twee gedagtes te hunker. Karl Barth het gepraat van “swing between yes and no.”
Twyfel is normaal. Jy is okei. Dis deel van die geloofstryd. Twyfel is wanneer jy onseker is maar wil glo.
• God veroordeel ons nie as ons twyfel nie. Hy soek eerlike opregtheid voor Hom. In Luk.7:28 sien ons dat Jesus net na Johannes se vertwyfeling sê : “niemand is groter as Johannes nie…”
• Wat antwoord Jesus vir Johannes se afgevaardigdes? Wat sê dit vir jou?
Ons dink twyfel is vernietiging van geloof.
God gebruik dikwels ons stryd om juis ons geloof te versterk. Ek kan dink hoe Johannes op Jesus se antwoord moes reageer. “Blindes sien… lammes loop…”
Waar kom daardie woorde vandaan? Lees dit in Luk.4:18. Dis woorde van die profeet Jesaja. Jesus antwoord Johannes met die bevestiging dat Hy die Een is waarvan Jesaja praat. Hy is die verwagte Messias van die volk.
Wanneer ons opreg in die geloofstryd is, en ons kom by die bevestiging van wie God is vind ons troos. Ons vind troos wanneer Hy maar net weer bevestig wie Hy is. Daarom besef dat in moeilike twyfeltye jy gewoonlik vrae vra wat jou na God sal lei. 1Tess.5:21
Moet nie in vertwyfeling bly nie. Gaan bedink weer die goed wat jy weet. Dit wat jy vas en seker van is. As mens in die see swem, en die branders raak sterk gaan jy gewoonlik bietjie vlakker sodat jou voete weer grond raak. Van daar kan jy weer die see geniet sonder om bekommerd te raak dat `n stroom jou sal vat.
Lee Strobel “FAITH” akroniem om hiermee te help:
F – Find the root of doubt. Is dit intellektueel? Sukkel jy om iets te verstaan wat met kennis te doen het? Of is dit emosioneel? Sukkel jy oor `n gevoel wat jy kry. Maak dit jou bang, bekommerd, besorgd, kwaad, onseker, ens. Of is dit roeping? Is die oorsprong van jou vertwyfeling omdat jy nie vas is oor jou roeping nie? Kry die oorsprong en sort dit uit.
A – Ask God for help. In twyfeltye moet jy an God gaan, en aan Hom vashou. Vra Hom vir hulp. Soek by Hom jou krag. Te veel leë beloftes in die wêreld sal jou nog meer verwar. Vra God!
I – Implement a course of action. Wanneer jy die oorsprong het en by God krag gevind het, besluit wat jy gaan doen. Kies `n roete wat jy gaan loop. Maak duidelike besluite.
T – Take care of your spiritual health. Maak tyd vir jou geestelike groei en verhouding met God. Dat jy op die pad wat jy gekies het as gelowige kan bly. Dit sal jou ook help hou by God se droom vir jou.
H – Hold remaining questions in tension. Dis soms so dat ons nie al die antwoorde kry nie, dat ons steeds in die misterie van God moet leef. Hou maar net die vrae in jou agterkop terwyl jy op vaste bekende grond loop.
• Gesels oor die stelling: “Ons vertrou God makliker om ons verlede uit te wis as om ons toekoms en vandag uit te sort.”
• Gal.3:3
• Lees Ps.29 en sien weer God se grootheid!
• Wat bevestig die laaste vers in Ps 29 weer vir jou?
17 April 2020 - HOOP (9)
Habakuk 3 – Al sou die vyeboom nie bot nie…
Onthou nou weer:
In Habakuk 1 sien die profeet die erge verwoesting van sy volk. Hy pleit by God oor hoekom hy die slegte dinge moet sien. Sy groot vraag is “hoekom doen God dan klaarblyklik niks nie?” Maar Habakuk hou aan in die geloofstryd om aan God vas te hou. God is saam met hom (of ons) in die stryd. Hy is saam met jou in die vallei van doodskadu. Jy is nie alleen nie, al verstaan jy nie altyd nie.
In hoofstuk 2 leer ons hoe ons in die slegte “wag-tyd” moet wag. Hoe God steeds beloftes maak en sal optree. Ons leer dat God wil hê dat ons op ons wagtorings moet gaan staan en skryf oor wat ons hoor. Ons moet ook besef dat God troos gee in die woorde dat Hy sal optree teen die bose. Die bose sal nie die laaste sê hê nie. Na die vyf weë-uitsprake van hoofstuk 2, waarin die profeet beskryf hoe die bose vernietig sal word, kom die woorde in vers 20 wat bevestig dat God steeds op Sy troon is. Dat God steeds in beheer is! Hy is in Sy heilige tempel.
Lees Habakuk 3
Habakuk is nou op die wagtoring, daar waar hy kan dink oor die Heilige God wat hy dien. Hy onthou die God wat hy nog altyd van gehoor het en in wie hy glo. Hy dink aan die groot dade van die verlede wat God gedoen het. Hy weet dat die God ook goed is en die toekoms in Sy hand hou. Dan sing Habakuk die lied in hoofstuk 3. Dis nie `n klaaglied nie. Dis dalk op die wysie van `n klaaglied, maar dis eintlik `n dramatiese musikale lied met baie emosie in. Dit wissel baie van intensiteit. Dit bevestig Habakuk se gemoed en stryd.
Terwyl Habakuk in die wagtoring is (sy plek waar hy God ontmoet… soos jou binne kamer), weet hy dat die verwoesting van die Galdeërs kom. Hy weet die omstandighede waarin hulle leef sleg is. Hy sien steeds die onreg raak en die ergernis wat nog kom.
Lees vers 2 : God se grootheid vervul met ontsag
• Hoe verstaan jy vers 2?
• Hoe sal jy reageer as jy so bewus raak van God se grootheid, en van Sy woede oor die sleg in ons wêreld of in jou?
• “Ontferm U selfs in u toorn” ; Waar het God Sy grootste ontferming vir jou gewys?
Moet nooit vergeet dat Jesus Christus al jou skuld gedra het nie. Jou sonde is weggedra, afgewas verwyder! Dis die voorreg wat ons het wat na Christus leef.
Lees vers 3-16: God is die God van alle tye. Gister, vandag en môre.
Die deel van die lied besing Habakuk die glorie van God. Ten spyte van die feit dat hy die moeilikheid sien kom. Hy sien steeds God se grootheid en glorie te midde van die krisis.
Vers 3 praat van Teman en Paranberg. Dis waar God vandaan gekom het in die tyd van die eksodus gebeure. Toe God Israel uit Egipte gered het in die verlede het Hy van Teman en Paranberg af gekom.
Vers 7 praat van Kusan en Midian. Dit was in die woestyn terwyl Israel deur God versorg is.
• Hoekom sal Habakuk terugdink aan daardie tye van die geskiedenis?
• Wat beskryf Habakuk oor daardie tye van die geskiedenis?
Vers 8-11 is soos `n sarkastiese beskrywing. Hy spot bietjie met die aarde in vergelyking met God se grootheid. Dit herhinner ook aan die gebeure van God se reddingsdade in die woestyn. God het die see oopgemaak, die riviere laat opdroog dat Israel kon deurstap, Hy het water laat kom uit `n rots, berge laat bewe.
• Raak bewus daarvan dat God van die verlede se dade Sy grootheid bewys het. Hy is vandag steeds so groot en almagtig.
Vers 12-15 het meer van `n toekoms prentjie. God sal oor die aarde stap, en die nasies (bose) verpletter. Vers 13 praat van die redding van die volk in die toekoms. Die woord vir gesalfde koning is ook “Messias”. Dit wys vooruit op die verwagte Messias ook.
Die bose sal ook nie die Verlosser vernietig nie. Al sal God se toorn, Sy woede als uitstort op die Messias in ons plek, sal die bose Hom nie vernietig nie. Hy sal oorwin. Ons weet vandag dat Hy oorwin het. Ons hou aan Hom vas.
• Hoe laat vers 16 jou voel?
Lees verse 17-19: Nogtans sal ek jubel
Sekerlik die mees bekende gedeelte in Habakuk. Ons sing oor dit. Ons ken dit. Maar sien die woorde in die agtergrond van die hele boek. Die prentjie wat Habakuk skets is die prentjie van uiterste verwoesting. Die prentjie van Ballingskap. Die prentjie van die “chaos” soos beskryf in Genesis 1 voor die skepping. Dit was donker en woes op die aarde. Dis die mees verwoeste prentjie voor selfs enige iets goeds. Binne die raamwerk sing Habakuk… nogtans sal ek jubel. Nogtans sal ek juig.
Want God is op Sy troon. Hy is in Sy heilige tempel. By Hom kry ons krag om in moeilike plekke soos hoë berge te loop. Hoë berge hier is nie bedoel as `n plek van krag nie, dis bedoel as `n plek van vrees vir skerp klippe, hoë afgronde, kranse en los grond. Val is enige tyd moontlik, maar God laat jou daar loop soos `n ribbok. Vreesloos, omdat jy verder kyk as die krisis, die vrese, die onsekerhede. Jy sien soos Habakuk ook die toekoms, die oorwinning en die troos van God.
• Die kernvers van die boek is Habakuk 2:4. Hulle wat in geloof lewe sal gered word. (lees weer die Engelse vertaling ook). Die lied in Habakuk drie eindig met `n getuienis van die geloof waarmee Habakuk vervul is wanneer hy God se grootheid ken.
• God antwoord nie Habakuk se “hoekom” vraag van hoofstuk 1 nie, maar hier sien ons hoe God Habakuk se perspektief verander het. Dit maak al die verskil.
• Hoe lyk jou perspektief op wat voorlê? Of op vandag?
“Mag God jou perspektief gee op Sy grootheid!”
15 April 2020 - HOOP (8)
Habakuk 2 – Wag op die Here
Inleiding:
Die naam Habakuk beteken “Embrace”. Om te omhels, of om vas te gryp. In hoofstuk 1 het ons gesien dat Habakuk met God worstel omdat hy nie verstaan nie, maar hy hou vas aan God. Hy doen wat sy naam beteken met God. Hy klim nie uit die stryd uit nie. Hy hou vas!
Hoofstuk 2 in Habakuk sal ons help om “vas” te hou. Die “hoe” van vashou.
Lees Hab.2:1-4
• Hier is drie goed wat Habakuk doen in sy stryd met God. Kan jy dit identifiseer?
• Wat is die doel van `n wagtoring op `n vestingmuur?
• Wat doen Habakuk daar op die wagtoring?
• Wat sê die Here moet hy daar doen?
Dikwels as ons wil hoor wat God vir ons gaan sê, dan soek ons ook troos, of `n boodskap van hoop.
• Watter troos vind Habakuk in God se woorde? (vers 3)
Probeer iewers `n Engelse vertaling van vers 4 kry.
• Wat beteken die vers 4 vir jou persoonlik in jou tyd van “wag”?
Lees Jes.40:31 “maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.”
Om te wag op die Here is `n daad in geloof!
Terwyl jy wag kan jy gaan na die plek waar jy God die beste kan hoor. Jou binnekamer, jou koffietafel, jou sonvertrek, jou grasperk, of waar ook al vir jou werk. Daar waar jy spesiale tyd met God spandeer en Hom kan ervaar. Gaan wag gereeld daar. Terwyl jy wag kan jy skryf. Skryf jou gedagtes neer, jou gebede, en soms die dinge wat jy dink God self vir jou sê. Toets die woorde aan die Woord, en onderskei of dit wel God se woorde vir jou is. Hy sal jou antwoord. Hy wil met jou praat. (Onder die bybelstudie is `n paar wenke van wat kan help)
Lees Hab.2:5-20
In die deel praat God oor die goddelose. Die bose wat in die wêreld soveel hartseer veroorsaak. Hier gaan die oor die geskiedkundige volk Babel, maar as voorbeeld van alle bose, soos in Openbaring, sal alle boosheid eindelik vernietig word. Hier word die oordeel oor die boosheid uitgespreek. God sal nie toelaat dat die gebroke wêreld die laaste sê het oor ons nie. God sal die bose oorwin. Hy sal Sy volk red in die finale oordeel.
- Wat sal die uiteinde wees wanneer God alle boosheid vernietig? (vers 14)
- Die deel sluit af met vers 20. Wat sou die bevestiging in die vers vir jou beteken?
- Vertel vir mekaar/skryf neer wat verse 5-20 vir jou beteken in `n krisis tyd?
Hoe kan ek God se stem hoor in `n “wag tyd”? (natuurlik is daar meer maniere, maar hier is van die belangrikstes.)
– Die getuienis van die Bybel (2 Tim.3) (vir die Emmausgangers en vir die 11 in die bo vertrek lê Jesus die Skrif uit…) Die hele Bybel vertel die storie van Jesus! Dit leer ons God se hart. Leer ons God ken… later begin ons verstaan hoe Hy dink en voel… en ons sal Hom beter hoor dan! Dieselfde Gees wat die Skrif geïnspireer het, is ook in jou! Ken die Skrif!
– Die innerlike oortuigings van die HG in ons gedagtes en ons harte! (Rom.8, Gal.5, Heb.8). Sy stem is soos `n stem, maar is nie `n stem nie… meer soos `n innerlike oortuiging! Ek self het dit al beleef… en ek weet nou nog nie of ek `n stem gehoor het en of nie… maar ek het geweet dis God wat praat! God praat met die mees “gevorderde en volwasse gelowiges deur die sagte stil stem in jou gedagtes, jou hart en begeertes… wat ooreenstem met Sy Woord! 1 Sam.3:1-10 Dink aan Sameul… toe God hom geroep het het hy Sy stem gehoor, maar Eli het nie gehoor nie…
– God praat deur Wysheid. Kol.2:3, 1 Kor.1:24). Die Wysheid van Christus is in ons! Psalm 32:8-9 praat van die mens wat deur God gelei word is anders as die meul of donkie wat met `n stang en toom gelei word. Die wysheid van God begelei ons op die regte pad! God gee nie noodwendig in elke situasie presiese roetekaart nie… party goed kan ons self besluit… soos oor die pad stap, wat ek voor lus is om te eet… soms selfs of Hy wil hê jy moet `n werk aanvaar of nie en of jy moet aansoek doen of nie… Soms is dit regtig net dat God jou vryheid gee om self te besluit met wysheid waarmee jy Hom dien! God se wysheid help ons om goeie deurdagte besluite te neem binne die wil van God! Ons is nie robotte nie… ons is in verhouding met God.
– Die gewete…(Hand.24:16) Iets wat jou gewete pla… moet jy nie doen nie. Dis die Gees se manier om jou te laat wegkyk van dit af, dan pla dit jou nie meer nie. Rom.2:15. Wanneer jy jou gewete die heeltyd ignoreer, sal hy afgestomp word, en sal dit later verdwyn… 1Tim.4:2
– God praat deur die “gemeente”…(1 Kor.2:16) deur mense wat saam met jou die geloofspad loop! Paulus praat hier van “ons het die Gees van Christus”. Ons saam het die “gedagtes van Christus. Ons gesamentlik soek en vind Christus se wil wanneer ons saam dink, saam bid oor `n saak! 1 kor. 2:9-10… Die gedagtes van God is `n groepsontdekking. Dit behoort nie aan `n individu nie. Nie een oog nie, ook nie een oor nie… maar ons het die Gees van Christus! Spr.11:14 sê dat ons baie raadgewers moet hê.
Kom dan in die regte frekwensie:
– Wees arm van gees! Jy kan nie in God se teenwoordigheid kom en verwag jy gaan Hom hoor as jy klaar dink jy het alles wat jy nodig het nie. As jy dink jy is uitgesorteer nie. As jy dink jy weet als nie. Niemand kan jou niks leer nie… nie eers ander wat dalk jonger of dommer is as jy nie…. Arm van gees is om nederig en afhanklik te wees. Jy moet gereed wees om van enige oord af iets te hoor van wat God wil sê. Dis om die regte houding te hê! `n Houding van desperaatheid om God se stem te hoor, om Sy begeleiding te ervaar en om Hom te beleef!
– Vermy skuldgevoel wat jou ore blok! Maak die kanaal skoon… die Duiwel kla jou aan… dis nie dieselfde as jou gewete nie. Jou gewete bring jou terug, jou oordrewe skuldgevoel maak jou skaam en wegkruip soos Adam en Eva! Gelukkig is God se genade so groot dat Hy ons nog kom soek ook. Onthou dat Christus se bloed jou skoon gewas het! Die bloed van Christus dra altyd meer gesag as jou gevoel van skuld en nie goed genoeg wees nie. Gevoel van veroordeelde gemors en nie waardig om voor God te verskyn nie… Christus maak ons vry van sulke gedagtes!
– Geloofsverwagting! Jy moet verwag dat Hy met jou wil en gaan praat! Jy moet aanvaar in geloof dat God met jou in `n verhouding wil wees en daarom sal Hy met jou wil praat. En spits dan jou ore! Stel al jou sintuie in op Hom… God sê in Hebr.11:6 dat Hy die wat Hom soek sal beloon! Heb 11:6 As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon. God belowe dat die wat kinders van God is sal gelei word deur Sy Gees! Rom.8:14. Geloof moet ook groei. Jou instik om Sy stem te hoor moet ook groei. Jy moet oor tyd meer gemaklik raak om Hom te vertrou wanneer jy Hom hoor! Bv. My verhaal van Teologie swot, trou, trek…
– Wees bereid om te gehoorsaam! As jy ingaan om God se stem te hoor, moet jy gereed wees om te doen wat Hy sê. Jy moet oop wees om anders oortuig te word as wat jy reeds wil hê of dink. Jy moet gereed wees om te gaan of te bly soos Hy beveel. Bid: “Vader gee my krag om te doen wat U vra… vra my dan enige iets…” Dis wat Jesus gedoen het… Hy sê in Johannes dat HY net kom doen het wat die Vader sê Hy moet… Joh.5:30, 8:28-29. Jou bereidheid om gehoorsaam te wees is direk eweredig aan of jy Hom sal hoor of nie. Jy sal nie hoor wat jy nie wil hoor nie…
– Jou motief moet reg wees! Hoekom wil jy Sy stem hoor? Gaan dit om jouself te bevorder in die lewe? Beter posisie te bekom? Meer ryk te word? Meer gemak te beleef? Of gaan dit regtig om Sy koninkryk? As jy vra dat God jou Sy stem sal laat hoor sodat dit ander mense tot voordeel sal wees, sal jy beter hoor!
8 Stappe!
- Bring die saak spesifiek an God. Met `n verwagting dat Hy daaroor sal antwoord op een of ander manier. Bly dan ingestel op Hom.
- Gaan sonder jouself af saam God… ry, draf, loop…sodat ander goed jou nie besig hou nie.
- Skryf enige iets neer wat by jou opkom oor die saak… Gedagtes, gebeure, mense se woorde…
- As jy niks hoor nie, moet nie moed opgee nie, wag geduldig. Gaan aan met jou werk, jou dag ens… Bly wel ingestel op enige iets wat jy dink van God kan kom. Toets elke gedagte, gebeure, woord van mense, ens…
- Pas op vir Bybel roelet. Moet nie verval in bygeloof soos, bybel blaai, vinger druk… “God sê” nie. Jy hoef nie gedruk te voel om God se stem te hoor nie, jy sal want Hy wil met jou praat! Glo dit!
- Na heelwat tyd, probeer om die saak met `n goeie geloofsvriend, of leier te praat. Soek na wysheid, vertrou dat God deur die gemeente praat! Sy Liggaam.
- Dalk kan jy vas. (As die saak besonder belangrik is vir jou) Vat `n paar dae, vas en bid. Ek is nie `n kenner oor vas nie, maar wat ek verstaan is om jou liggaam te verswak skerp later jou geestelike sintuie in! Dis nie `n manipulering van God nie… JOU MOTIEF IS BELANGRIK! Dis om jou geestelik te verskerp!
- As baie tyd verby is, en jy het steeds niks gehoor nie… Dan het jy dalk, maar jy wil nie… gaan toets weer jou ingesteldheid, jou motiewe en jou gewilligheid om te volg
13 April 2020 - HOOP (7)
Habakuk 1 – Bly in die stryd!
Inleiding:
Habakuk tree op in die laaste tyd voor Israel in ballingskap weggevoer is. In die tyd het die volk alles gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. En volgens die beloftes van God sou Hy hulle verwoes as hulle Sy gebooie verontagsaam. Koning Jojakim is koning oor Israel.
Lees Hab. 1:1-5: Habakuk se probleem
Hy sien die korrupsie en die slegte optrede van sy volk raak. Dit pynig hom om die agteruitgang van die volk te sien. Sy hart is gebreek soos God se hart gebreek is oor die volk se misdrywe. Hy pleit dan by God: Hoe lank gaan God die ongeregtigheid toelaat? Hy vra die vrae in vers 1-5 in die eerste persoon enkelvoud. Dit raak hom persoonlik baie erg.
• Het jy al deur `n tyd gegaan waar swaarkry jou onder kry? Het jy al by God gepleit omdat jy nie verstaan het wat om jou aan die gang is nie?
• In hierdie tye wil mens net `n antwoord van God af hê dat dit sal beter gaan!
Lees Hab. 1:6-11: Die ongewensde antwoord van God.
Hier kom antwoord God vir Habakuk. Hy sê Hy gaan die Galdeërs stuur om straf te bring vir Israel. Hulle sal vinnig kom, hulle sal verwoesting bring. Hulle perde is so vinnig soos luiperds, hulle skiet af soos arende op hul prooi. Kyk hoe die woorde in die gedeelte die mag van die Babiloniërs beskryf. (Babiloniërs en Galdeërs is dieselfde mense).
• Hoe sal jy voel as jy nie die antwoord van God af hoor wat jy graag sou wou hoor nie?
• Grendeltyd is verleng… die ergste kom nog… Wat maak dit in jou binneste wakker?
Lees Hab.1:12-17 : Bly is die worstelstryd
Geloof is `n stryd. Dis nie maklik nie. Die word in die Nuwe Testament beskryf met woorde soos “geloofstryd, wedloop, boksgeveg, ens…” As dit maklik was sou almal dit gedoen het. Veral in moeilike na moeiliker omstandighede raak geloof moeilik.
Kyk nou hoe Habakuk se bewoording verander. Vers 12 praat Habakuk van “ons”. Die Hebreeus help mens om te verstaan na wie hy verwys. Die “ons” is hy en God, en “Israel”. Dis sluit doelbewus God in die ons in. Want ons is God se eiendom. As ons ly, dan voel God dit ook. Hy verstaan ons stryd, ons pyn ons vrese. God hou nie daarvan om Sy kinders se pyn te sien nie. Habakuk vermeld dit, want hy wil ook vir God herhinner dat die pyn ook Sy pyn is. Hy trek God by die probleem in. Want Hy weet hoe naby God aan hom is. God sal jou nie los nie!
Hier vind nou `n toutrek in Habakuk se gemoed plaas. Dis `n wisselstryd tussen “ek vertrou God” en “Ek verstaan nie wat God doen nie”. Die gevoel van “vertrou” en “wanbegrip” is die stryd wat gelowiges soms deurgaan, wat maak dat geloof so ingewikkeld is.
• Kyk hoeveel keer sien jy die pendulum swaai tussen “vertrou” en “ek verstaan nie” in die verse?
• Gee Habakuk op in die tyd en stryd?
Praktiese lesse:
Ons leer by Habakuk om in die tyd nie vir God te los nie! Hou vas aan die Een wat jou baie liefhet, al verstaan jy nie altyd in die oomblik nie, al sien jy nie altyd die volle prentjie nie.
Alle mense gaan een of ander tyd deur een of ander pyn in die lewe. Dis soms fisiese trauma soos `n siekte of `n ongeluk, of soms is dit `n emosionele trauma soos `n geliefde wat sterf. Soms, dikwels is die pyn fisies en emosioneel. Die feit is, ons gaan almal een of ander tyd deur iets soos dit!
Matt.5:4a sê: “geseënd is die wat treur…”
Die woord vir treur, hier in grieks, is die mees erge soort treur wat daar is. Dis gewoonlik agv erge hartseer en pyn.
“Ons doen eerstens alles in ons vermoë om lyding te vermy. Maar wanneer die onvermydelike gebeur en ons lyding ervaar, doen ons alles in ons vermoë om nie te treur nie. Wanneer ons dan agterkom ons treur, doen ons alles in ons vermoë om dit te beëindig.” Kyle Idleman
Treur is om bewustelik deur lyding te gaan
Lyding was ons skoon van die onvolmaakthede… treur help jou groei deur die pyn!
Wanneer ons deur pyn was ontdek ons 4 geskenke van God af:
1. Dieper bewustheid van ons gebrokenheid
Lees Luk.18:9-14
• Wanneer besef `n persoon dat hy/sy nie geestelik hoogmoedig moet wees nie?
Ons kan maklik oor ander oordeel, maar wanneer ons deur lyding gegaan het weet ons van beter. Ons hoef nie ander te oordeel nie, want ons is net so stukkend.
2. `n Dieper waardering vir God se misterie.
Lees Ps.18:12
• Wanneer skyn God se lig op sy helderste?
Ons hoef nie altyd in beheer te wees nie. Ons besef dit eers na ons deur lyding is.
3. `n Dieper vermoë om te wag op die Here.
Lees Ps.130
Gesels ook oor Abraham se verhaal…. Israel in Egipte… Israel in die woestyn, ens.
• Hoeveel geduld het jy met God wanneer jy iets wil hê of wil hoor?
Wanneer ons deur ernstige lyding gegaan het besef ons beter hoe om te wag tot God se tyd die regte tyd is.
4. `n` Dieper vermoë om te laat gaan
Lees 1Kor.7:29-31
• Hoe moeilik is dit vir ons as ons iets of iemand na aan ons verloor?
Wanneer ons deur erge lyding gegaan het besef ons dat ons nie op `n ongesonde manier moet vasklou
aan ons aardse goed nie. Selfs nie eers aan mense nie. Ons leef op die aarde en ons besef ons lewens is
eintlik geborge in God en in Sy Koninkryk vir ewig.
8 April 2020 - HOOP (6)
Jes.43:1-13 “Jy is Myne”
Inleiding:
• Ons HOOP lê in God se liefde vir ons.
Ons moet nooit dink ons word deur God gered omdat ons vir Hom so baie lief is nie. Ons word nie gered omdat ons vir Hom lief is of omdat ons so baie moeite doen met Hom nie. God red ons omdat Hy ons liefhet! Dit was in die Ou Testament net so waar soos in die Nuwe Testament. Dikwels dink mense aan God die Vader as `n kwaai en ernstige God waarvoor mens “bang” moet wees. En dan dink hulle dat Jesus soortvan die aanslae van die Vader afweer omdat Hy sagter en “nicer” is, asof God se liefde net sigbaar is in Jesus. Ons moet onthou dat God die Vader juis vir Jesus gestuur het uit liefde. God is liefde, Vader, Seun en Gees is liefde.
Hierdie liefde van God is sigbaar in die deel wat ons vandag saam lees:
Lees Jes.43:1-13
As jy breedweg die gedeelte in drie dele kon opdeel sou dit so lyk: a) God red, b) God maak ons bymekaar, c) God roep ons tot getuies.
a) God red (verse 1-4)
As jy Jes.42:18-25 lees sal jy hoor dat God weer woedend was vir Sy volk. Hulle wou nie hoor nie, hulle wou nie sien nie, hulle was heeltyd weerbarstig. God was woedend en dit lyk of God in vers 25 hulle gaan oorgee aan hul ellende. Maar God doen dit nie! Hoekom nie? Hoekom red God hulle wat so traag is van begrip?
– Vers 1 help ons om te sien hoekom God hulle red. Hy gee Sy motief weg in die vers. Hoekom sou jy sê red God hulle?
– Op `n manier sê vers 1 dat Israel, deel is van God. Daarom as hulle seerkry, kry Hy ook seer. Soos `n ma wat langs die operasie bed sit van haar kind, sy voel die pyn van die naalde wat in die kind gedruk word… So voel God ook ons pyn, al gebeur dit nie met Hom nie, beleef Hy ons pyn ook. As Hy Sy volk tot niet laat gaan, dan verloor Hy iets van Homself.
• Kyk nou ook hoe help God hulle om Sy liefde te verstaan:
Hy herhinner hulle aan die verlede –
Vers 2 – Wanneer moes Israel al voorheen deur water of riviere gaan? Wat het God daar gedoen?
Waar in die geskiedenis was van Israel se mense by vure waar hulle gered moes word? (Daniël 3:24-26)
Vers 3 en 4 praat daarvan dat God ander volke gegee het as losprys vir Israel.
Toe God Israel uit Egipte gered het, het `n klomp Egiptenare omgekom in die see. Israel was gered, maar dis asof iemand moes sterf. God het eerder die Egiptenare laat sterf as die Israeliete. Hy red so die Israeliete. Maar ook gee Hy mense in ons plek?
Dink hieroor: As God Israel red ten koste van die slegte Egiptenare, hoeveel te meer sal Hy red ten koste van die Wonderlike Sondelose Lam van God?
Jesus het in jou plek gesterf… dat Jy gered kan wees. Soveel meer werd as mense in jou plek. Die Verlosser in jou plek! As dit jou nie Hoop gee nie, wat sal?
God red omdat Hy lief is vir ons.
Lees Hosea 11:8-9
“Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.Ek sal my gloeiende toorn bedwing, Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie, want Ek is God, nie ‘n mens nie. Ek is die Heilige wat by jou is, Ek sal nie met woede ingryp nie.”
b) God bring ons by Hom
Israel is in Ballingskap weggevoer na Babel. Hulle is daar sleg behandel en was slawe. Hulle was nog nooit in slegter omstandighede as in daardie tyd nie. God sê hier dat Hy hulle sal terugbring vanuit al die rigtings van die wind. Maar hulle was net Babel toe weggevoer? Daarom weet ons dat God ook hier meer bedoel as net die redding van Israel uit Babel uit. Hy roep alle gelowiges na Hom toe.
Hy bring Israel vanuit die gebrokenheid in Babel na die land Kanaän terug. Maar Hy sê ook dat Hy almal wat na Sy Naam geroep is sal bring na die land Kanaän.
o Waaruit (uit watter plek) word jy geroep na God toe?
o Waar sou Kanaän wees vir jou?
c) God se getuies (8-13)
Israel was in hoofstuk 42 beskuldig dat hulle doof en blind is. Hulle hoor en sine nie die werk van God nie. Vir hulle lyk dit asof die werk van die bose groter is as God se werk. Vir hulle lyk die probleme en die krisisse van die wêreld groter as God se almag. Agter elke afgod in die wêreld is `n dowe oor en `n blinde oog wat nie God se handewerk en genade sien nie. Ons swakhede maak dat ons eerder in die probleme of ander uitkomstes vas kyk, as in God se genade en liefde en almag.
• Ons stryd is tussen lig en donker. Eers as ons dit kan raaksien sal die stryd vir ons makliker word as ons besef dat God Lig is! (9)
• Slegs vanuit `n verhouding met God in Jesus Christus kan God as Lig erken word, en dan kan ons as getuies optree dat Hy die enigste ware God is. (10-12)
Vers 13. God red ons uit die hand van die vyand, maar die vyand kan ons nooit ruk uit die van van God nie!
Joh 10:28 Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.
6 April 2020 - HOOP (5)
Jesaja 38-39
Inleiding:
`n Ou gereformeerde bewustheid is dat daar drie dinge is wat jy moet weet en verstaan om in saligheid van jou God se geregtigheid te kan leef. Sonde, Verlossing en dankbaarheid.
Heidelbergse Kategismus, Sondag 1, vraag 2: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?
a) Hoe groot my sonde en ellende is, b) hoe ek van my sonde en ellende verlos kan word, c) hoe ek God vir so `n verlossing dankbaar moet wees.
a) Matt.11:28-30. Ef.5:8, b) Joh.9:41, Matt 9:12, Rom.3:10, 1Joh. 1:9-10, c) Joh.17:3, Hand.4:12, 10:43, Ef.5:10, Ps.50:14, Matt 5:16, 1Pet.2:12, Rom.6:13, 2Tim 2:15
• 1. Hiskia sing `n lied van verlossing:
Lees Jes.38:9-20
Die agtergrond is die gedeelte in vers 1-8 waar God vir Hiskia van sy dodelike siekte genees. Waar God `n teken gee van die son wat terugskuif en Hiskia gesond sal word. Die siekte wat hy gehad het was baie ernstig en die boodskap was dat hy sou sterf, maar God kom toe, nadat Hiskia gebid het, om hom te genees.
Nou sing Hiskia die lied in verse 9-20. In die lied is daar beweging van dood na lewe.
• Kyk of julle die kontras tussen vers 9-14 en 15-20 kan sien?
• Watter beeldspraak gebruik Hiskia in vers 11 en 12, vers 13 en 14?
Hoe sou hy assosieer met die beelde? Hoe moes hy voel om sulke dinge te kon skryf?
In ver 15 sê Hiskia dat met hom gepraat het… wanneer dink julle het hy beleef dat God met hom praat? Was dit in maklike tye? Kyk ook na vers 17…
• Lees nou weer vers 18-20 as `n geheel… Wanneer kan `n mens God loof?
Dis duidelik dat vers 9-14 gaan oor Hiskia se belewenis van sy siekte en ondergang…maar daar kom dan `n sterk verandering in verse 15-20. Hier sing Hiskia oor sy blydskap en dankbaarheid.
Die beweging van DOOD na LEWE is dus sigbaar in die lied:
• Is dit nie maar ook die lied van elke gelowige nie? Hoe kan jy assosieer met die lied?
• Dink jou lewe sonder Jesus se verlossingswerk in… en dink ook dan oor jou lewe in Jesus se verlossingswerk… Kan jy nou saam met Hiskia sing?
• 2. Hoekom het God vir Hiskia genees?
Lees nou Jes.38:1-8
• Kyk na Hiskia se gebed: Wat gebruik hy as redes vir God se genade en redding? (vers 3)
• Waaraan gee God aandag in Sy antwoord? (5-8)
Wat dink julle het die konnektasie aan Dawid met hierdie verhaal te doen?
Hoeveel jaar sal God by Hiskia se lewe aanheg?
Vir interessantheid: Hiskia was omtrent 25 toe hy koning geword het. (2Kon.18:2) Hy het 29 jaar geregeer. Sy seun Manasse het hom as koning opgevolg. Manasse was 12 jaar oud toe hy koning geword het. Dit beteken dat Manasse nog nie gebore was toe Hiskia die siekte gekry het nie. Belangrik vir die Hoop tema: God hou Sy beloftes… God het aan Dawid belowe: Een uit sy nageslag sal koning word, en sy koningshuis sal altyd voortbestaan. Daarom, daar sal altyd een uit die nageslag van Dawid regeer.
God verhoor nie Hiskia se gebed omdat hy altyd getrou was nie, maar eerder omdat Hy `n belofte gemaak het aan Dawid. God bly getrou aan Homself, Hy is genadig omdat Hy God is en nie omdat Hiskia goed gedoen het nie.
• Hoekom sal God jou genadig wees?
• 3. Hoe wil God hê moet ons leef in Sy genade?
Lees nou Jes.39
• Toe God Hiskia se lewe wonderbaarlik gered en verleng het was dit regtig besonders. Hiskia het hoogmoedig geword.
2Kron 32:24-26 “Dié tyd het Hiskia ernstig siek geword. Hy het tot die Here gebid, en die Here het met hom gepraat en met hom ‘n wonder laat gebeur. Hiskia het egter nie dankbaarheid betoon vir dié weldaad nie. Hy het ingenome geword met homself, en dit het die toorn van die Here oor hom en oor Juda en Jerusalem gebring. Hy en die inwoners van Jerusalem het egter berou gekry oor die selfingenomenheid, en die toorn van die Here het toe nie in die tyd van Hiskia oor hulle gekom nie.”
Interessant: Die briewe wat die gesante van Babel gebring het, het waarskynlik vir Hiskia vertel dat Babel se konings baie beïndruk is met hom, oor dit wat God vir hom gedoen het. As God so groot wonder vir hom gedoen het moet hy seker belangrik wees. Daarom sou hulle met hom in `n koalisie wil wees. Hulle het waarskynlik vir Hiskia genooi om saam met hulle oorlog te maak teen die koning van Assirië. Daarom wys Hiskia vir hulle al sy skatte ens, want dit plaas hom in hul vertroue.
• Hoekom sou God so woedend wees hieroor? (Vers 5-7)
• Wat sou `n beter reaksie van Hiskia gewees het nadat God hom genees het en die Babiloniërs opgedaag het?
Hoe sien jy jou “sonde, verlossing en dankbaarheid?”
3 April 2020 - HOOP (4)
Hebr.6:19, 1Pet.3:15
Inleiding:
As God nou vir jou die geleentheid gee om al jou gebede van die week te verhoor: Hoeveel mense sal môre tot bekering gekom het? Hoeveel meer mense sou gered gewees het omdat jy vir hulle gebid het?
God is steeds in die bedryf van lewens verander. Ons ken baie verhale van mense wat drasties tot bekering gekom het, en wat dan `n baie goeie positiewe omkeer gehad het. God het hulle lewens verander. As jy dit nie meer glo nie, kan jy ook nie HOOP behou nie. Jy moet glo dat God steeds in jou lewe dinge kan verander. God kan ook mense vir wie jy omgee se lewens verander.
Klaagl 3:21-23 : Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.
Elke oggend is God se liefde en ontferming nuut. Dit hou nooit op nie. Maak nie saak wat in jou lewe aan die gang is nie. Môre, of vandag, is daar weer Hoop, want God se liefde hou nie op vir jou nie.
Lees: Rom.15:13
Waar kom jou HOOP vandaan? As jy weer min oor het in jou gemoed, waar kan jy weer gaan vol maak.
Wat word bedoel met die woord “bron”? Dink aan `n Fontein, lewende water…
• Dink hoe moet mense voel wat geen hoop het nie? Veral in die tyd van die Corona Virus.
Dr. A Hattschnecker vertel `n storie van `n soldaat wat deur die vyand in gevangenis was. Die tronkbewaarders het gesê hulle sal hom vrylaat as hy hulle help met inligting oor die oorlog. Hy het begin dink dat as hy die vyand begin help, sal hulle hom vrylaat. Hy het begin om vir hulle inligting te voer van sy weermag. Hy het begin werk vir die vyand in die tronk. Maar op `n stadium het hy besef hulle gaan hom nie vrylaat nie. Sy hoop het begin dof raak. Hy het moed op gegee, en is toe na `n paar dae dood.
Daarom sê dr. Huttschnecker: Sonder hoop kan ons nie leef nie.
“Since my early years as a physician, I learned that taking away hope is, to most people, like pronouncing a death sentence. Their already hard-pressed will to live can become paralyzed, and they may give up and die.”
Dink aan koning Hiskia in 2 Kon.20. Toe hy hoor hy is siek en gaan sterf, het hy opgekrul op sy bed en vir die muur gekyk. Hoe moes hy gevoel het in daardie oomblik wat hy die slegte nuus ontvang het?
Maar toe God deur die profeet sê dat hy gesond sal word..? Hy het toe weer begin leef. Ongelukkig het hy hoogmoedig geword, en dit het toe tot sy val gelei.
• Wanneer God vir ons hoop gee, wat wil Hy hê moet ons doen met die geskenk?
• Ander mense kan ook nie leef sonder Hoop nie.
Lees weer 1 Pet.3:15
1 April 2020 - HOOP (3)
Jes. 51:1-6 HOU MOED, BLY GLO, MOENIE HOOP VERLOOR NIE!
Soos julle weet help `n bietjie aanmoediging baie! Dit maak `n verskil! Soms in ons lewens het ons ook motivering, aanmoediging en inspirasie nodig!
Partykeer in die lewe gebeur goed dat ons moed verloor. Ek praat van bigtime trouble… groot probleme. Goed wat jou laat begin vra of God nog omgee, bestaan of net nie vir jou lief is nie! Dan besef jy, dit waardeur jy gaan is regtig moeilik! Die wêreld staan tans in so `n situasie waar almal in vrees begin leef.
Hoop is nie iets wat jy kan doen of maak nie, jy kry dit as `n geskenk… iets of iemand gee jou hoop. Jy moet dit ontvang. God gee Israel hoop in die deel wat ons gelees het, God gee ons hoop, ons moet dit by Hom ontvang.
Israel in Ballingskap… die deel wat ons gelees het:
In die bybel sien ons dat Israel ook deur sulke moeilike tye gegaan het!
Ons weet hulle was baie gelukkig in hul land, en als het volgens hulle goedgegaan. Hulle was baie ontsteld toe dinge verander het. In die tyd toe Nebukadnesar die Israeliete wegevoer het na Babel. Hierdie tyd was vir hulle baie swaar! Dis die agtergrond van Jes. 51
Maar God wil hulle nou self kom bemoedig en hoop gee.
Soveel keer het Israel nou die oordeel gehoor… soveel keer gehoor hulle is in diep moeilikheid, dun ys, ens! Daar was gereeld waarskuwings van God dat Israel in die wil van God moet leef, anders sal daar swaar tye voorlê. Nou in ballingskap beleef Israel daardie slegte tyd!
En behalwe dit… hulle is regtig op `n baie slegte plek in hulle lewens! Hulle mense word sleg behandel. Hulle is slawe, hulle twyfel in God en alles is sleg! Dink maar net aan baie slegte omstandighede! Daai goed wat jou laat vra of God nog omgee, of Hy nog self help, of Hy nog enigsins bestaan? Tipe moeilikheid!
Hier kom Jes.51:1-6 nou in die prentjie!
In hierdie diep moeilikheid kom gee God vir Israel `n nuwe boodskap!
Hy begin met: “LUISTER ISRAEL”… en in hulle koppe is dit amper asof hulle weer gereed staan vir raaskry, maar dan gee God nuwe woorde! Hy gee HOOP!
God sê: Kyk wat Ek gedoen het! Waar julle vandaan kom!
Julle kom uit `n ROTS… Uit Abraham:
Abraham was niks voor God by hom gekom het nie. Hy het geen nageslag gehad nie. Hy was `n heidin voor God na Hom toe gekom het! God sê… Julle moet onthou, Ek het Abraham gaan haal en hom groot gemaak, Ek sal dit met julle ook kan doen!
God sê: Kyk na Sara… Sy was soos `n droë pit! Ken julle `n droë pit in die woestyn? Geen hoop in `n droë put nie. Maar God het haar vrugbaar gemaak.
Ek het haar laat kinders hê! Kyk wat Ek gedoen het, en dink aan wat Ek kan doen…sê die Here!
God sê: Kyk hoe help Ek spesifiek!
In die verlede het God mense se spesifieke krisis aangespreuk… Abram, en Sara…
Nou gaan Hy dit weer doen!
Israel se nood nou is: Hulle het nie `n plek van aanbidding nie. Hulle rou oor hulle swaarkry. Hulle is bedroef en onderdruk… en hulle stad, Sion is vernietig en lyk soos `n ashoop!
God sê, Hy gaan die puinhoop verander in `n Eden, die droefheid wegvat en dit verander in vreugde en blydskap! Kyk wat Ek gaan doen, sê die Here…
God sê: My hoop strek verder as nou!
Die mees belangrike ding wat God vir Sy kinders sê is dat die hoop wat Hy gee, strek verder as nou en hierdie wêreld! Al sou die maan verdwyn, die sterre val, en die aarde vergaan…soos `n muggie…(julle al daai goggatjies gesien wat vanaand so baie is, maar môre lê almal dood in die kombuis?) Al sou dit gebeur, God se verlossing strek verder as dit, Sy hoop geld vir “vir altyd”.
Hierdie gedeelte is baie poeties gekryf. Om mense aan te moedig! Mense in moeilikheid aan te moedig…Hou moed, hou aan… God is in beheer, Hy regeer, Hy gee hoop in Hooplose tye!
Ons het soms sulke motivering nodig om deur ernstige krisise te gaan! Ons het nodig om te weet waar ons Hoop vandaan kom!
16:33